Header Artwork
Mangaung-metro implementeer verhoogde elektrisiteitstarief sonder Nersa se goedkeuring    

Die Mangaung-metro het op Donderdag 1 Julie 2021 ’n tarief geïmplementeer wat nie deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur is nie. Dit volg nadat Centlec op 7 Junie 2021 ’n veranderde tariefstruktuur by Nersa ingedien het wat neerkom op ’n verhoging bo die munisipale kerf sonder dat die dokumente wat wetgewing vereis, ingedien is. 

Kragtens Artikel 14 van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit, 4 van 2006 mag die munisipaliteit nie sonder Nersa se goedkeuring ’n verhoogde elektrisiteitstarief implementeer nie. Indien daar aan die struktuur van die tariewe verander word, moet daar ’n studie van voorsieningskoste (cost of supply study) gedoen word om te verseker dat die nuwe tariewestruktuur geregverdig kan word. Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dat Nersa as reguleerder nie ’n besluit oor ’n nuwe tariewestruktuur kan neem sonder ’n nuwe studie van voorsieningskoste-dokument nie en sal daardie besluit op prosessuele gronde tersyde gestel kan word. 

Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, sê dat dit slinks is van die raad om op die tweede laaste dag van die maand ’n verhoogde tarief goed te keur waarin die publiek geen insae gehad het nie. “Daar is verskeie ongerymdhede rondom die goedkeuring van die nuwe voorstel vir elektrisiteitstariewe. Die voorstel was aan Nersa gemaak op 7 Junie waarby die voorstel nog geensins deur die raad goedgekeur is nie en op 29 Junie het die raad die voorstel goedgekeur vir implementering sonder dat die voorstel deur Nersa goedgekeur is. Verder is daar ook ’n ander tarief goedgekeur deur die raad wat in die begroting saamgevat is,” het Grobbelaar gesê.

Grobbelaar spreek verder ook sy bekommernis uit oor die geïmplementeerde tarief. “Die tarief wat nou geïmplementeer is, het die gevolg dat inwoners van die Mangaung-metro effektief ’n hoër verhoging sal ervaar in plaas van die 14.59% soos uiteengesit in die begroting aangesien die eerste band van die tarief nou slegs 150 eenhede strek. Die metro het die publieke deelnameproses heeltemal omseil met die agterbakse proses wat gevolg is.” 

AfriForum sal voortgaan om met sy regspan te konsulteer om te verseker dat die regte prosesse gevolg word en dat die verhoogde tarief wel billik is. 

AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Bloemfontein om betrokke te raak om dié onbillike proses tersyde te stel. Voeg jou stem by die klagte deur hierdie skakel te volg en help AfriForum om hul saak te versterk: https://antiek.afriforum.co.za/jou-elektrisiteitstariewe-is-onwettig-verhoog-afriforum-vat-die-mangaung-metro-hof-toe-hieroor/ 

Jy kan ook die woord “tarief” SMS na 45344 (R1) om jou naam by die klag te voeg.  

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN