Header Artwork
Instellings verwerp wysigings aan Gelykheidswet

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in samewerking met Begrond en die Princess Gabo Foundation kommentaar ingedien op die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000 (ook bekend as die PEPUDA). Dié drie instellings verwerp die voorgestelde wysigings aangesien dit die staat onbehoorlike mag sal gee om die algehele samelewingsorde omver te werp waarbinne gemeenskappe leef.

Die kommentaar wat ingedien is, fokus hoofsaaklik op die volgende punte:

  1. Die definisie van die term diskriminasie word sodanig verbreed dat selfs onbedoelde diskriminasie daarby ingesluit word. Dit beteken dat die bedoeling van die aangeklaagde hiervolgens van geen belang is nie, dit is slegs die ervaring van die klaer wat tel.
  2. Die definisie van die term gelykheid word verbreed om gelyke reg en toegang tot hulpbronne, geleenthede en voordele in te sluit. Dit is byvoorbeeld strydig met die kulturele gebruike van tradisionele gemeenskappe wat tradisionele leiers op grond van herkoms aanwys.
  3. Burgerlike instellings en organisasies sal volgens dié wysigings aanspreeklik gehou word vir die optredes van hul lede en personeel. Dit is onmoontlik vir enige leierskap om die gedrag van ondersteuners te alle tye te bepaal en vrees vir vervolging kan burgerlike instellings dus lamlê.
  4. Die staat sal verreikende magte hê om deur middel van kodes en regulasies aan gemeenskapsinstellings en nieregeringsorganisasies voor te skryf hoe dié gestruktureer en bedryf moet word.
  5. Die staat sal klaers se sake mag befonds, maar sal nie finansiële hulp hoef te voorsien aan diegene wat hulle teen die klagtes moet verdedig nie. Op dié wyse sal gemeenskappe se belastinggeld byvoorbeeld gebruik kan word om vetes te voer.
  6. Die staat sal alle wetgewing, kodes en beleid moet hersien om te verseker dat dit aan die nuwe vereistes en definisies voldoen.

“Die voorgestelde wetswysigings sal aan die staat verreikende magte verleen om in gemeenskappe en hul instellings in te meng. Die wysigings is só ingrypend dat dit die regering die regsruimte sal bied om die hele samelewingsorde soos wat ons dit ken omvêr te werp sodat dit volgens hul ideologie gevorm kan word. Gemeenskappe het die reg en verantwoordelikheid om hulself te orden en binne instellings uit te leef in ooreenstemming met hul geloof, waardes en kultuur. Daarom verwerp ons dié wysigings,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum.

“Die voorgestelde PEPUDA-wetswysiging is weereens ’n bewys van die huidige ANC-regering se oormoedige arrogansie om die hele burgerlike samelewing te wil beheer en reguleer. As Christene teken ons sterk beswaar aan teen dié magsoorskreiding. Volgens die Bybel het die Here ’n bepaalde doel en opdrag aan die owerheid gegee. Hulle staan in God se diens en moet hulle daarmee besig hou. Die owerheid moet sy plek ken en ophou om vryheid van aanbidding en vryheid van spraak te probeer nasionaliseer.

By implikasie sal ons dus nie meer saam met ander gelowiges ons geloof openlik kan uitleef of selfs preek of evangeliseer sonder die moontlikheid van vervolging nie. Dit sal geloofsmonde weens vrees snoer en geloofsvryheid aan bande lê. Elke mens en geloofsinstelling moet optree en hul stem hierby voeg. Dit het die vermoë om ʼn groot gesamentlike verskil vir ons kinders en kleinkinders te maak,” sê dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond.

“Dit is nie alarmisties om standpunt teen die wetsontwerp in te neem nie. Dit is wys, want teenstand daarteen beskerm juis ons demokrasie deur die burgerlike gemeenskap se onafhanklikheid te verdedig. As die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word, sal dit gemeenskappe se reg ingrypend benadeel om hul unieke identiteit en kultuur uit te leef,” voeg Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, by.

“Dié wysigings dui op ’n gebrek aan respek vir die tradisies en gebruike van tradisionele gemeenskappe, en vir die kultuur van tradisionele leierskap spesifiek. Tradisionele leierskap word gerig deur antieke kulture en gebruike wat deur ons voorgeslagte oorgedra is, en nie deur die ideologie van enige politieke party of die ideologie van absolute gelykheid nie. Die regering se magsvergrype wat tradisionele leierskap betref, is juis tans besig om onenigheid en tweedrag in tradisionele gemeenskappe te veroorsaak. As die regering se mag vergroot word sodat dit in gemeenskapsgebaseerde en nieregeringsorganisasies mag inmeng, sal gemeenskapslede daaronder ly. Burgers ly reeds daagliks onder swak regering op alle vlakke. Die regering behoort eerder daarop te fokus om huidige uitdagings die hoof te bied, en nie om bykomende mag wederregtelik toe te eien nie,” sê prinses Gabo Moroka, tradisionele leier en stigter van die Prinses Gabo-stigting.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN