Header Artwork
Hou skole oop in belang van kinders

Deur Werner Human

Niemand sou met die aanvang van 2020 kon verwag dat die verklaring van ’n pandemie en die daarstel van streng inperkings die land en die wêreld onherroeplik sou verander nie.

Aspekte van ons lewens wat as vanselfsprekend aanvaar is, word geraak op wyses wat nie as moontlik beskou kon word nie. Grondwetlike regte soos die reg op die vryheid van beweging, die reg om te werk, die reg op menswaardigheid, die reg op vryheid van godsdiensbeoefening, die reg op vryheid van uitdrukking en ’n rits ander is opgeskort.

Veral die reg op onderrig, wat op onstuimige waters vaar sedert die aanvang van die inperking, is onderhewig aan talle hofaansoeke en politieke druk van sekere onderwysvakbonde en ander organisasies om skole te sluit.

Terwyl dit voorkom of politieke oorwegings die botoon voer in die onderwys, soos wat dit die geval is met ander vorme van die inperking, moet die uitmuntende werk wat onderwysers sedert die begin van die inperking doen, uitdruklik gemeld word.

Sedert 27 Maart het onderwysers se werklading aansienlik toegeneem en moes daar inderhaas elektroniese klasse voorberei en aangebied word. Onderwysers is nog steeds op hulle pos besig om leerders by te staan.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het sedert Maart meer as 120 000 intekenare ontvang, en talle onderwysers het hul tyd aangebied om op hierdie innoverende platform klas te gee.

Die geleidelike oopmaak van skole het op 8 Junie begin, en ná ’n suksesvolle hofaansoek van Solidariteit en ’n kleuterskool is kleuterskole sedert 7 Julie ook oop.

Intussen het onderwysvakbonde en ander organisasies politieke druk uitgeoefen om skole te sluit – ’n stap wat nie in die beste belang van kinders is nie.

Waarom moet skole oop bly? Is dit nie makliker om skole net te sluit tot die virus oorgewaai het nie?

Daar is ’n hele aantal redes waarom skole moet oop bly in die belang van ons kinders. Dit kan soos volg saamgevat word:

  1. Eerstens, hoe behoort ons die oopmaak van skole te benader? Professor Michael Osterholm van die Universiteit van Michigan meen dat regerings die pandemie bestuur asof dit die eienskappe van ’n “storm” dra, ’n onmiddellike bedreiging wat vinnig sal oorwaai. Maar die koronavirus dra nie die eienskappe van ’n storm nie maar van ’n lang winterseisoen, aldus professor Osterholm. Daarom moet daar saam met die virus geleef word. Dit beteken dat skole en ondernemings wat veilig kan oop bly daardie keuse moet kan uitoefen.

 

  1. Soos wat President Ramaphosa op 23 Maart aangevoer het, is die beweegrede vir die inperkingsmaatreëls om ’n skerp styging van besmettings te verhoed, om sodoende nie die land se verswakte gesondheidsinfrastuktuur te oorweldig nie. Daar bestaan geen bewyse dat die oopmaak van skole enige wesenlike invloed op die aantal besmettingsgevalle het nie.

 

  1. Die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging het bekend gemaak dat kinders besonder weerstandig teen besmetting is. In Suid-Afrika is minder as 5% van die bevestigde gevalle kinders onder die ouderdom van 18 jaar, en professor Servaas van der Berg en professor Nic Spaull van die Universiteit Stellenbosch het bevind dat kinders onder die ouderdom van 19 jaar ’n 0,001%-kans het om weens die koronavirus te sterf.

 

  1. ’n Verslag van die Departement van Basiese Onderwys, opgestel deur professor Martin Gustafsson, dui aan dat onderwysers ’n 0,8%-risiko loop om die koronavirus by die skool op te doen. Dit is omtrent dieselfde kans as wat inwoners van Gauteng het om die koronavirus te kry.

 

  1. Dit is in die belang van kinders – en ouers – dat skole oop moet bly. Veral ouers met kleiner kinders sal nie ekonomies aktief kan wees indien die kinders nie by die skool is nie. Hoe gemaak indien jy moet werk en die kinders kan nie by die skool wees nie?

 

  1. Verder het die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging, die Pediatriese Bestuursgroep (PMG) en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie bevind dat dit nie in die beste belang van kinders is om tuis te bly nie.

 

  1. Meer onlangs het onder meer die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef), die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Ekonomiese, Opvoedkundige en Kulturele Organisasie (UNESCO) ’n verslag bekendgestel waarin daar gewaarsku word oor die nadelige uitwerking wat die COVID-19-pandemie op kinders se onderrig en algehele welstand het. In ’n neutedop stel die verslag dat gepaste beleide, prosedures en ander veiligheidsoorwegings in werking gestel moet word om skole op ’n gereedheidsgrondslag te plaas. Verder word daar aanbeveel dat skole proaktiewe stappe moet doen om te verseker dat hul leerders verlore skoolwerk so gou doenlik kan inhaal en laastens dat wanneer skole wel oopmaak, gesondheidsaanwysers deurlopend gemoniteer word.

Daar kan verder uitgewei word oor die redes vir skole om oop te bly.

Die kabinet se vertrekpunt is om die pandemie deur sentrale beheer te bestuur, eenvormigheid in alle omstandighede af te dwing en daarmee die realiteit op grondvlak te verontagsaam.

Dit is die regering se taak om die skole wat hulself kan bestuur en besluite kan neem, toe te laat om dit te doen en om indringend ondersteuning te bied aan dié wat nie kan nie.

Dit is die beginsel wat die Solidariteit Beweging beskerm en bevorder: dat demokraties verkose beheerliggame en skoolbesture die beste geplaas is om besluite te neem in die beste belang van die leerders en die skoolgemeenskap.

Werner Human is ’n adjunkbestuurshoof van Solidariteit en is verantwoordelik vir regsake en navorsing.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN