Header Artwork
Hoe raak trauma gemeenskappe?

Die impak van trauma strek verder as slegs individue wat direk getuies was of self geweld beleef het. Die gemeenskappe word ook getraumatiseer deur gewelddadige insidente en verliese soos dood.

Al hoe meer word daar besef dat die trauma in die gemeenskap, indien dit nie aandag geniet nie, in die gemeenskap se “geheue” vasgelê word en oorgedra word na die volgende geslag. Prof. Wentzel Coetzer beskryf in sy boek Generasie Bagasie hoe die onverwerkte pyn en trauma wat nie hanteer word nie, van geslag na geslag oorgedra word. Nigel Hunt sê in sy boek Memory, war and trauma hoe die trauma van oorlog ’n gemeenskap se gedrag en persepsie van hulself beïnvloed.

Die siening dat trauma alleenlik op individuele vlak plaasvind, het verskuif om ook plek te maak vir kollektiewe trauma op gemeenskapsvlak.

Hoe raak trauma die gemeenskap?

Gemeenskappe bestaan meestal uit individue wat saamgebring word deur ’n gemeenskaplike doel. Daarmee saam ontwikkel ’n sterk kohesie en ’n gevoel van behoort. Hierdie saamwees strek soms oor geslagte heen en mense voel soos “familie” vir mekaar. Hierdie gevoel van familiewees maak dat daar oor die jare sterk emosionele bande ontwikkel. Hulle staan by mekaar in strawwe tye en help dra mekaar se laste.

Die mate waarin ’n gemeenskap getraumatiseer word, word bepaal deur die tipe kohesie tussen die lede, die bepaalde insident (bv. ’n plaasaanval, verkragting, roof), of daar lewensverlies was en die geweld wat gebruik is. Hierdie omstandighede en belewenisse verskil van gemeenskap tot gemeenskap en bly uniek.

Trauma laat emosionele en psigiese “wonde” en letsels op die gemeenskap.

As voorbeeld word ’n plaasgemeenskap gebruik. In die geval van plaasaanvalle wat lewensbedreigend is en verlies van lewe tot gevolg het, kom die trauma soos volg tot uiting:

  • Vrees en angs in die gemeenskap oor hulle veiligheid. Die veilige en rustige omgewing het skielik baie onveilig geword.
  • Skok, ongeloof en verslaenheid.
  • Hoogs emosionele toestand ontwikkel.
  • Hiperbedagtheid van die gemeenskap oor die beweging van mense in die gemeenskap.
  • Vertroue in die medemens kom onder druk.
  • ’n Gevoel dat hulle beheer verloor het.
  • Vorige traumatiese insidente word herroep (snellers) en kompliseer die trauma.
  • Die siening oor die samelewing en die toekoms kom onder die vergrootglas.
  • Gemeenskapsnetwerke en samewerkingstrukture (soos die polisie en ander organisasies) kom onder druk. Daar kan soms verdagmaking wees wat samewerking en ondersteuning ondermyn.
  • Die sterk kulturele en sosiale band kan soms skipbreuk ly.

 

 

 

Hoe raak trauma die vroue in die gemeenskap?

Ons vroue is mos geskape uit ’n man se rib en ’n rib is ’n baie sterk been. Deur die dekades heen word daar van ons vroue gepraat as die sterk persoon in die huis, die sterk persoon in die gesin. Die vrou moet haar gesin dra, haar man se las op haar skouers dra, haar kinders versorg, die huis versorg en skoonmaak en dan moet sy ook nog na haarself omsien.

Ons AfriForum se trauma-eenheid het die afgelope ruk met gemeenskappe gewerk en ondersteuning en ontlonting gaan bied soos hulle versoek het. Ons het gesien dat die vroue probeer sterk staan vir hulle mans en kinders. Die vroue sukkel om hulle emosies voor hulle mans te wys en praat ook nie oor hulle emosies met hulle mans nie. Hulle steek hulle emosies weg, hulle probeer dapper en moedig voorkom vir hulle mans en kinders. Ons AfriForum-traumaberaders het ’n tyd gelede alleen met ’n groep vroue gepraat en ontlonting toegepas en het die volgende emosies onder die vroue ervaar.

Toe hierdie vroue se mans nie meer by was nie, het elkeen se emosies begin oorloop, al die emosies wat hulle teruggehou het, weggesteek het en onderdruk het. Hierdie vroue is vreesbevange vir hulle gesinne se veiligheid. So vreesbevange dat hulle snags nie slaap nie, hulle loop rond in die huis en kyk of alles veilig is en of hulle kinders veilig voel. Dit was vir party van die vroue ’n totale verligting om hulle emosies te kon deel en om met iemand te praat wat luister en daar was vir hulle. Hierdie sterk vroue het gesien al die vroue in hulle gemeenskap het min of meer dieselfde emosies en gevoelens en krop ook hulle gevoelens op om sterk te wees vir hulle gesinne. Toe hulle sien hoe die een vrou na die ander verligting ervaar na ’n lekker huilsessie, het almal onmiddellik verligting ervaar en gemaklik gevoel om hulle emosies met ons asook met mekaar te deel. Hulle het besef hulle is nie alleen nie. Hulle het mekaar en kan op mekaar steun. Die vroue het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle sterker is saam en daar kan wees vir mekaar en dat hulle nie alleen is nie.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN