Header Artwork
Hier’s bietjie goeie nuus tydens die staat van inperking

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het vandag aangekondig dat ’n paar opwindende  nuwe kwalifikasies vanaf 2021 aangebied word.

Die kwalifikasies sluit onder meer die instelling se eerste nagraadse kwalifikasies en  ʼn eerste program-aanbod vanuit die fakulteit opvoedkunde in.

Die word ook op die instelling se nauurse onderrigmodel aangebied wat dit ideaal vir werkendes maak wat verder wil studeer.

Die nagraadse kwalifikasies bou die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe verder uit, en bied aan Afrikaanse studente die geleentheid om studies voort te sit met ʼn nagraadse diploma in belasting of ʼn nagraadse diploma in bestuursrekeningkunde.

Die eerste kwalifikasie in opvoedkunde is ʼn nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) vir senior fase en verdere onderwys en opleiding.

Akademia is trots op hierdie eerstes vir die instelling. “Nadat ʼn deeglike akkreditasieproses by die Raad op Hoër Onderwys voltooi is, kan hierdie drie kwalifikasies vanaf volgende jaar oor ʼn landwye netwerk van studiesentrums in Suid-Afrika en in Windhoek aangebied word,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia.

“Afrikaanse studente wat ʼn voorgraadse kwalifikasie in die toepaslike rigtings voltooi het, kan nou hulle loopbaanmoontlikhede uitbrei deur verder te studeer om in een van hierdie drie rigtings te spesialiseer – en boonop kan hulle die studies in hul moedertaal doen,” sê Visser.

Volgens Visser dien die nagraadse diploma in bestuursrekeningkunde as ʼn aanvullende studiemoontlikheid tot Akademia se bestaande BCom-kwalifikasie. Hierdie nagraadse diploma bied die nodige voorbereiding om toelating tot die Chartered Institute of Management Accountants (CIMA) se  finale eksamens op strategiese vlak te vergemaklik. Na voltooiing van die CIMA-eksamens en -vereistes kan studente as geoktrooieerde bestuurrekenmeesters kwalifiseer.

“Akademia se nagraadse diploma in belasting bied die ideale geleentheid vir studente wat reeds ʼn voorgraadse kwalifikasie in ʼn rekeningkundige veld voltooi het en in belasting wil spesialiseer,” meen Visser.

Hierdie kwalifikasie stel studente in staat om die belangrike taak van organisatoriese en individuele nakoming van die vereistes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Tesourie te verseker.

Professor Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, meen dat die NGOS wat volgende jaar aangebied word, die eerste stap in die ontwikkeling en totstandkoming van ʼn volledige Fakulteit Opvoedkunde is. “By Akademia is ons toegewyd om met hierdie kwalifikasie uitstaande onderwysers vir graad 8 tot 12 op te lei, wat oor die nodige pedagogiese inhoudskennis, vaardighede en ervaring in die werkplek beskik.”

“Ons by Akademia is dankbaar oor die jongste verwikkelinge vir 2021”, vertel Visser. “Dit beteken dat ons steeds hoop kan skep in onsekere tye, en beter geleenthede kan skep vir studente. Ons glo dat afgestudeerde studente van hierdie kwalifikasies hulself goed in die werksplek as afgeronde kundiges sal posisioneer, en ʼn groot bydrae sal kan lewer in gemeenskappe waarin hul hulself bevind.”

Aansoeke vir studies in 2021 is reeds oop. Besoek Akademia se webblad vir meer inligting oor hierdie kwalifikasies, asook om aanlyn aansoek te doen vir toelating tot die programme.

https://akademia.ac.za/index.php/wat-kan-ek-studeer/

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN