AfriForum het vandag hofverrigtinge in Hartswater in die Noord-Kaap bygewoon, waar vyf verdagtes vir die wrede moord op Elzabie (54), Breggie (73) en Danie Brand (83) verskyn het.
Honderde lede van die Hartswater- en omliggende gemeenskap het met plakkate na die landdroshof opgeruk om dié moorde te veroordeel, asook plaasmoorde in die algemeen. Die plaaslike AfriForum-buurtwag het vandeesweek saam met die dorp se gemeenskapsveiligheideenheid, die plaaslike boeregemeenskap en die polisie gewerk om die vyf verdagtes aan te keer. AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid het ook berading vir die slagoffers se familie en bure gereël.
Volgens Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling, was daar vandag ’n gevoel van eenstemmigheid en saamstaan onder die gemeenskap. Hy en Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, het die hofverrigtinge bygewoon.
“Die gemeenskap het vandag verenig en saamgestaan. Mense het genoeg gehad – hulle soek Pres. Cyril Ramaphosa hier. Hy moet die gemeenskap in die oë kom kyk en verduidelikheid of plaasaanvalle en -moorde steeds net gewone misdaad is. Gemeenskappe is moeg om onveilig te voel en sê hard en duidelik dat genoeg nou genoeg is,” sê Kruger.
Die burgerregteorganisasie het op 8 Julie 2020 ’n verskerpte veldtog teen plaasmoorde van stapel gestuur nadat daar die afgelope tyd ’n skerp toename in plaasmoorde was. Daar was vanjaar reeds 186 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde. In Julie was daar tot dusver 39 aanvalle en nege moorde.
As deel van dié veldtog het AfriForum ’n ope brief aan Pres. Ramaphosa gerig, waarin die organisasie sy ingryping eis. AfriForum het ook tien praktiese stappe in die brief uiteengesit wat die regering behoort te doen om plaasmoorde doeltreffend te bekamp.
Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê AfriForum vra nie vir spesiale behandeling vir plaasaanvalle nie, maar vir gelyke behandeling.
“Die Suid-Afrikaanse regering het geen probleem daarmee om gefokusde teenstrategieë te ontwikkel om ’n verskeidenheid van unieke misdade te bekamp nie. Dit sluit in geweld teen vroue en kinders, bendeverwante geweld, koperkabeldiefstal, transitorooftogte en renosterstropery, om maar ’n paar te noem. Dit is slegs in die geval van plaasmoorde dat ons skielik gekonfronteer word met kabinetslede wat – in die ergste geval – dié misdade regverdig, of wat – ten beste – die bestaan daarvan as iets onbelangrik afmaak.”