Header Artwork
God, gesin en gemeenskap in krisistye

Dr. Eugene Brink, strategiese adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum

’n Kollega sê onlangs vir my sy kan nie wag om ons almal te sien sodra die staat van inperking verby is nie. Sy is nou moeg vir haar eie geselskap en soek weer haar mense om haar. My reaksie daarop was dat ek net so voel, al is my gesin ten minste heeldag by my.

Hierdie inperking laat ons weer besef wat ons kan verloor, en wat vir ons werklik belangrik is en ons geborge laat voel. Rykdom het uiteraard sy positiewe eienskappe en ’n mens kan baie daarmee verrig, maar dit weeg maar sleg op teen die goed wat regtig in ons lewens saak maak.

In weerwil van tegnologie se deugde is daar net iets aan fisieke interaksie en gemeenskap wat weergaloos is. Geen mens is ’n eiland nie en in hierdie tyd besef ek weer eens persoonlik hoe belangrik my kultuurgemeenskap en gesin vir my is. Soos die inleidende voorbeeld hierbo en talle ander anekdotes wys, vermoed ek ek is geensins alleen nie.

Dit gee ons tyd om te besef dat, ofskoon ons as Afrikaners natuurlik baie het waaroor ons kan kla (swak dienslewering, die regering se rasbeheptheid, ensovoorts), is ons nogtans geseënd met soveel ander voorregte en veral ons ryk gemeenskapslewe. Net soos met die politieke krisisse wat altyd op die Afrikaner se drempel is, besef ons dat ons almal ook hierdie krisis nie slegs as individue aandurf nie, maar as ’n gemeenskap en ook as gesinne.

Hierdie sin vir gemeenskap het tot ’n oorvloed weldade in tye van onsekerheid gelei. Ons as Afrikaners het te midde van ’n krisis en swaarkry ons “misterieuse lewenskragtigheid” – soos NP van Wyk Louw daarna verwys – ten goede gebruik. AfriForum het in een week 15 000 bottels handreiniger aan nooddienste, gesondheidspersoneel en tehuise vir bejaardes geskenk. Ons is besig om op groot skaal nóg gesigmaskers, kos en handreiniger by onder meer ouetehuise en nooddienste regoor die land af te laai.

Die Solidariteit Helpende Hand het in dieselfde week 782 behoeftige gesinne gehelp en 74 instellings ondersteun. Dit is als gedoen sonder ’n sent staatshulp. Trouens, dit word slegs moontlik gemaak deur ander mense se helpende hande. Boere en die publiek het groente en ander voedsel geskenk en dit het die nypende nood by kinderhuise verlig.

Die Solidariteit Beweging se Noodfonds het reeds miljoene rand ingesamel om vir projekte aan te wend wat uit die impak van die COVID-19-pandemie voortspruit. Afrikaners is by verre die bes georganiseerde gemeenskap in die land. “’n Volk red homself” is nou net so toepaslik as ’n eeu gelede.

Meer spesifiek: As dié virus ons een ding geleer het, is dit dat die regering bloot nie in staat is om alles te doen wat gedoen moet word nie. Die bogenoemde hulp is meer as wat ons ooit van die staat sou kon verwag. Afgesien daarvan dat die gemeenskapslede gehelp is, is die staat se werkers ook nog deur hierdie inisiatiewe gehelp aangesien daar ook onder hulle ’n gebrek is en hulle met die publiek moet werk in hierdie tyd.

Die ander ligpunt is mense besef dat, wanneer ons met ’n gevaarlike, onsigbare en onbekende vyand te kampe het, ons ons krag in geloof moet vind. Ons aanvaar ons menslike tekortkominge en weet God is altyd in beheer – selfs, en veral, tydens krisisse en ontberinge. Dit is wanneer wonderwerke juis meer opvallend is.

Sodra hierdie inperking verby is, gaan ons weer alles wat ons as vanselfsprekend aanvaar het opreg waardeer: Die natuur, die kerk, medemense, die eenvoudige goed en alles anders wat ’n moderne lewe ons kan bied. Maar ons sal dwaas wees om nie ag te slaan op die lesse wat hierdie krisis ons leer nie, of om te vergeet wat ons ook hier gaan deurtrek.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN