Header Artwork
Gemeenskappe wat vir mekaar omgee, is dié wat sal oorleef

In tye van nood en onsekerheid is dit baie maklik om wanhopig te raak. Die teendeel is egter ook van baie mense waar.

Gegewe Afrikaners se geskiedenis en die baie kere wat hulle in die verlede as’t ware letterlik in sak en as was, is swaarkry dikwels ’n dryfveer wat die gehardes onder hulle in beweging dwing.

Ons is midde-in die Covid-19-krisis wat volgens alle aanduidings op ’n ramp afstuur. Die land is bankrot, die ekonomie het tot stilstand geknars en ’n korrupte en magsbehepte regering is in beheer. Vir minderhede is dit nog erger. Die ANC-regering het tydens die pandemie sy ware kleure gewys en Afrikaners weet nou dat hul as tweedeklasburgers bestempel word.

Dit is skokkend en selfs skreiend. Maar in die woorde van die bestuurslede van die Solidariteit Beweging is dit ook bevrydend. Afrikaners weet nou dat hulle op hul eie is.

Instellings van die beweging het vandeesweek bestekopname gedoen van wat sedert die krisis gedoen is. In plaas daarvan dat Afrikaners hul hoop op die regering geplaas het, het hulle skouer aan die wiel gesit en hulpprojekte aangepak om mekaar te help. Duisende gesinne is in hierdie tyd gevoed en van ander lewensmiddele voorsien.

Hierdie is maar die begin van ongekende moeilike tye wat voorlê. Met die ekonomie wat tot 10% kan inkrimp, gaan miljoene mense hul werk verloor. As minderheid gaan ons al hoe meer op mekaar aangewese wees soos wat ons voorouers op mekaar was kort na die Anglo-Boereoorlog.

In hierdie tyd is dit gepas om weer te gaan kyk wat mense soos Maria Elizabeth Rothmann, oftewel Ta’Miem gedoen het toe die krisis onder Afrikaners die ergste was.

Meer as ’n kwart van Afrikaners was in die 1920’s armblankes. Talle boere het gesukkel om weer ’n boerdery ná die oorlog aan die gang te kry en baie het stede toe getrek. Derduisende Afrikaners het in Johannesburg in krotbuurte opgeëindig en onder haglike omstandighede geleef. Mense soos Ta’ Miem het besef iets moet hieraan gedoen word. Organisasies is gestig om mense met kos, klere en blyplek te help.

In 1927 het ’n deurbraak gekom toe dr. F.P. Keppel, president van die Carnegie-korporasie, die land besoek het om onder meer te kyk wat met die geld gedoen kan word wat die Amerikaanse filantroop Andrew Carnegie vir navorsing nagelaat het. Die armblanke-kwessie is onder sy aandag gebring en die korporasie het ingestem om £62 000 vir ’n ondersoek te skenk.

Die Carnegie-ondersoek is op 1 Januarie 1929 geloods en die kommissie het uit kundiges soos ’n dokter, ’n sosioloog, ’n ekonoom, ’n opvoedkundige en ’n sielkundige bestaan. Ta’Miem was die enigste vrou in die kommissie. Sy het in stede se agterstrate geloop en in honderde huisies se voorkamers en kombuise gesit en die mense se diepste pyn en ellende neergeskryf.

Dit is die geskiedenis, maar dit kan weer ons mense se lot wees as ons mekaar nie help nie.

Ta’ Miem het gesê ’n mens leef nie alleen in die eie persoon nie, maar deur en met jou groep of volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die individu ook. Kom ons help mekaar nou en ondersteun die beweging se krisisfonds by www.krisisfonds.co.za

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN