Deur dr. Louis Dey
Beste Ouers
Gesien in die lig van die veranderde tye wat die jaar 2020 kenmerk, het sommige hoofde van die Afrikaanse skole wat die openbare skole in die oostelike voorstede van Pretoria bedien, dit gerade geag om ’n skrywe saam te stel om ouergemeenskappe se denke oor skole te stimuleer.
Talle vrae het in hierdie onsekere tye ontstaan oor modelle wat as alternatiewe vir skole oorweeg kan word. Afstandsonderrig is noodwendig ’n opsie vir skole in die COVID-jaar. Om leerlinge te help om só akademies die jaar te voltooi was onafwendbaar.
Ons openbare skole se onderwyskorps – wat die top skole nie net in Gauteng nie, maar ook in Suid-Afrika verteenwoordig – het juis tydens die nasionale inperking uiters innoverend en kreatief te werk gegaan om kuberskole van stapel te stuur.
Trouens al die skole in ons omgewing kon steeds daarin slaag om akademie van uiters hoë standaarde te bly handhaaf. Skole wat navorsing onder ouers gedoen het, het aangedui dat soveel as 97% van ouers in die omliggende skole met groot sukses van die alternatiewe manier van onderrig gebruik gemaak het. Indien akademiese onderrig die enigste verantwoordelikheid van skole sou wees om kinders na behore in samewerking met ouerhuise op te voed, sou mens kon redeneer dat hierdie manier van doen die manier van die toekoms blyk te wees.
Wanneer opvoedkundige literatuur egter onder die loep geneem word, blyk dit duidelik dat organisasies soos UNESCO, UNICEF, die Pedriatiese Vereniging van Suid-Afrika en verskeie onderwysstigtings wêreldwyd dit eens is dat skole baie meer as slegs platforms vir akademiese onderrig moet wees. Trouens as die toereikende opvoeding van ’n kind, wat ten doel het om ’n kind ten opsigte van ál sy/haar moontlikhede tot volwassenheid te begelei, met die dwarssnit van ’n lemoen vergelyk word, blyk dit gebiedend noodsaaklik dat elke segment ewe veel aandag verdien. ’n Kind wat argumentsonthalwe slegs akademies toegerus word, sou uiteraard gevaar loop om slegs ten dele sy/haar volwassenheid suksesvol te realiseer.
Sosiologiese navorsing dui daarop dat kinders wat van hul portuurgroep geïsoleer word, sukkel om na behore hul volwassewording toereikend te voltrek. Literatuur dui voorts daarop dat kinders wat nie binne veilige en koesterende omstandighede sosialiseer nie, se lewensverwagting selfs in sommige gevalle benadeel kan word. Daar is bevind dat hierdie kinders as ontheemdes sosiaal beperk word om hul plek volwaardig in die samelewing te vind. Doeltreffende skole dien as die ideale oefenveld vir die grootmenswêreld. Gevolglik is sosiale opvoedkundiges eensgesind dat effektiewe skole ’n ideale ruimte bied om kinders sodanig toe te rus om as lojale landsburgers in die samelewing ’n sinvolle en betekenisvolle bydrae te lewer.
Goeie openbare skole wat opvoedkundig innoverend bestuur en strategies geposisioneer word om kinders vir die toekoms voor te berei, bied aan kinders vanaf gr. R – 12 veel meer as net akademie. Waardegedrewe skole vorm kinders as toekomstige volwassenes in totaliteit. Hierdie skole as mikro-samelewings bied emosionele-, sosiale-, normatiewe-, fisieke- en kulturele geleenthede om geronde grootmense te slyp. Volwassenes wat uitstekend opvoedend toegerus is om ’n blink toekoms vir ons land te verseker.
Om alternatiewe onderrigmodusse te bly ontwikkel, is ’n moet, maar onses insiens skep funksionerende skole geskikte ruimtes om ’n broodnodige bydrae tot ’n samelewing te maak wat op sóveel dimensies verarmd daar uitsien.
*Dr. Louis Dey is hoof van Laerskool Constantiapark.