Header Artwork
AfriForum stel vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein bekend

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan eersdaags ’n vullisverwyderingsdiens aan inwoners van Bloemfontein lewer.

Dít volg ná talle inwoners klagtes van swak dienslewering aangaande vullisverwydering by AfriForum ingedien het. Die burgerregtewaghond het reeds op 18 Augustus ’n aanmaning aan die munisipaliteit gestuur om dringend aandag aan dié probleem te gee, maar nog geen terugvoer is ontvang nie.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek, is die projek van stapel gestuur met die doel om vullisverwydering in die stad op ’n volhoubare wyse te laat geskied.

“Die Mangaung Metro versuim om hulle daadwerklike pligte teenoor die gemeenskap na te kom. Boonop hou vullis wat vir maande langs die straat staan ’n gesondheids- en veiligheidsrisiko vir die gemeenskap in en dit is ons plig as burgerregteorganisasie om te verseker dat basiese dienste gelewer en burgerregte beskerm word,” sê Grobbelaar.

Grobbelaar sê voorts dat munisipale dienslewering in die toekoms net verder gaan verswak as gevolg van wanbesteding en korrupsie onder munisipale amptenare. “Die beste oplossing hiervoor is om dienste soos vullisverwydering self te begin lewer.”

AfriForum beoog om hierdie diens aan die begin van September uit te rol. AfriForum-lede wat van dié diens gebruik wil maak sal ’n bedrag van R163 per maand betaal en nielede R179.

Inwoners wat vir die diens registreer sal elke maand 15 AfriForum-vullissakke ontvang en die vullis sal een keer per week verwyder word. Die diens sluit die verwydering van sowel huishoudelike as tuinvullis in.

Inwoners kan by die projek aansluit deur AfriForum se webtuiste by www.vullisverwydering.antiek.afriforum.co.za te besoek of “Vullis” na 45266 te SMS (R1). Die volledige vullisverwyderingskedule is op die webtuiste beskikbaar.

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN