Header Artwork
Dlamini-Zuma moet teen 20 Januarie antwoord oor entstofkwessie

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het tot 20 Januarie om antwoorde oor die regering se implementeringsplan vir die Covid-19-entstowwe aan AfriForum en Solidariteit te verskaf. Dit volg nadat die twee organisasies met regstappe teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake en die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, begin het.

Volgens Solidariteit is daar geen duidelikheid of die privaat sektor, wat volgens die wet die reg het om entstowwe aan te koop, enige toegang tot Covid-19-entstowwe sal hê nie. Solidariteit voer verder aan dat die gevolg hiervan sal wees dat die staat totale beheer daaroor sal kan uitoefen en dus ook toegang tot entstowwe vir die privaat sektor, waaronder apteke, mediese fondse en privaat hospitale, en veral dus ook toegang vir die wyer publiek, sal beperk.

“Die regering het hom die reg toegeëien om die enigste aankoper van entstowwe in Suid-Afrika te wees,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut. “Dit is dieselfde regering wat tot dusver sy onbevoegdheid tydens die pandemie telkens bewys het. Dit is onwaarskynlik dat die regering met die kundigheid of kapasiteit wat die implementering van so ʼn omvangryke entstofprogram verg, vorendag sal kan kom. Deur aankope te beperk, vertraag die regering die proses. Veral mediese werkers en persone in ander sektore wat uitermatige blootstelling aan die virus kry, sal nou vir die regering moet wag in stede daarvan om die opsie te hê om hulself te laat inent of om dit deur hul eie mediese fonds te doen,” sê Mulder.

AfriForum voer aan dat die monopolisering van die entstof deur die regering pertinent inbreuk maak op die basiese regte van elke Suid-Afrikaanse burger. Die privaat sektor se deelname aan die aankoop en verspreiding van entstowwe is noodsaaklik vir die beskerming van mense se grondwetlike reg tot toegang tot gesondheidsorg.

“Met ʼn regeringsmonopolie op die aankoop en verspreiding van entstowwe word elke Suid-Afrikaner aan die genade van die regering oorgelaat,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. “Behalwe die moontlikheid van magsmisbruik deur die regering, kweek hul rekord van korrupsie en wanadministrasie gedurende die pandemie geensins vertroue nie.”

“Ek sidder om te dink dat ons in ʼn scenario kan beland waar miljoene Suid-Afrikaners se lewens afhang van die regering se logistieke vermoë. Ons is nie daarteen gekant dat die regering entstowwe mag aankoop nie, maar ons is in die middel van ’n pandemie. Hoe meer entstowwe die land binnekom, hoe beter. Ons verstaan egter nie waarom alle ander belanghebbendes verbied word om ook entstowwe aan te koop nie. Dit maak eenvoudig net nie sin dat die regering doelbewus die proses vertraag deur daarop aan te dring om alleenverkoper te wees nie,” sluit Mulder af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN