Header Artwork
COVID-19-taakspan staan hulpbehoewende kinders en diereskuilings by

Die COVID-19-taakspan – gestig deur die burgerregteorganisasie AfriForum, die familieboernetwerk Saai en Solidariteit Helpende Hand – het vandag in samewerking met Laeveld Agrochem en die Mark Fish Foundation skenkings by die Sonstraaltjie-kleuterskool in Brits, asook 2 ton hondekos wat deur Top Tail en Enerpets geskenk is by verskeie diereskuilings in Gauteng afgelewer.

Die taakspan het bokse met wintersklere, winterskoene en komberse vir hulpbehoewende kinders gepak. Die 34 bokse is vandag by die Sonstraaltjie-kleuterskool in Brits uitgedeel nadat dié skool AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid bewus gemaak het van die nood. Hierdie kinders kom uit hulpbehoewende gesinne en het nie genoeg warm klere en komberse om die winter deur te sien nie. Elke kind het ’n boks gekry wat spesifiek vir hom/haar gepak is met sy/haar naam op. Die bokse bevat ook van Genesis se voedsame kitsmaaltye (geborg deur Laeveld Agrochem) om hierdie kinders van noodsaaklike voedingstowwe te voorsien. Elke kind ontvang ook ’n sokkerbal van die Mark Fish Foundation af.

Altesaam 2 ton hondekos is by vier diereskuilings in Gauteng afgelewer. Die volgende skuilings het kos ontvang:

  1. Gudwulfs Pit Bull Rescue in Benoni
  2. FORA (Friends of Rescued Animals) in Krugersdorp
  3. Pretoria Animal Buddies
  4. Thaba Tshwane Dogs in Valhalla

Volgens Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, staan die taakspan gereed om sover moontlik die nood te help verlig. “Dit is reeds yskoud en dit is vir ons ’n riem onder die hart om te weet dat die kinders wat hierdie bokse kry nou warm klere en komberse het om die koue af te weer. Die nood, wat vererger is deur die regering se ondeurdagte inperkingsregulasies en toksiese afdwinging daarvan, is baie groot. Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat ons tot dusver ontvang het en is vol vertroue dat die publiek en organisasies se ruimhartige bydraes ons in staat sal stel om die nood te help verlig waar ons kan.”

“Saai is baie dankbaar vir die reuseskenking van hondekos wat Top Tail en Enerpets gemaak het. Diereskuilings kry ook swaar onder die staat van inperking. Troeteldiere word toenemend by hierdie instansies afgelaai omdat mense nie meer in staat is om vir hulle te sorg nie. Skuilings word ook nie deur die regering bygestaan nie en is afhanklik van skenkings soos hierdie om die diere te onderhou. Vandag se skenking behoort die diere in hierdie skuilings vir ten minste drie weke te kan voed,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die volgende maatskappye het ook skenkings gemaak:

  • Combined Private Investigation: Komberse (ter waarde van R10 000) vir die kinders.
  • Afri Sheet: Wintersklere en -skoene vir die kinders.
  • EkoKleen: Skoonmaakmiddels vir die ontsmetting van die kleuterskool, asook die diereskuilings.

Mense wat skenkings of finansiële bydraes wil maak, kan AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid kontak by trauma@antiek.afriforum.co.za.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN