Header Artwork
Briewe nie genoeg om plaasmoordkrisis op te los   

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op pres. Cyril Ramaphosa se omsendskrywe, waarin hy op die moord van Brendin Horner en die onlangse gebeure in Senekal reageer, geantwoord deur te sê dat briewe oor plaasmoorde nie voldoende is om dié krisis op te los nie.

AfriForum verwelkom die feit dat Ramaphosa die voorval aangespreek het en beskou dit as ’n stap in die regte rigting, maar dit doen egter nie weg met die skade wat Ramaphosa self aangerig het toe hy op ’n internasionale platform ontken het dat plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind nie. Dit doen ook nie weg met die skade wat Bheki Cele, die minister van Polisie, vroeër aangerig het in sy neerhalende opmerkings teenoor boere nie.

“Plaasmoorde is ’n omvattende probleem wat ’n omvangryke oplossing verg en hierdie oplossing moet ook in praktyk neerslag vind,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

“Dit is goed en wel dat die president sê dat daar beter samewerking tussen die polisie en die burgerlike samelewing moet wees, maar die werklikheid is egter dat die forums wat daarvoor voorsiening moet maak nie funksioneer nie. Die feit dat Bheki Cele bekend gemaak het dat een van die verdagtes al 16 keer in hegtenis geneem is, is wat AfriForum betref aanduidend dat die strafregstelsel wanfunksioneel is en bevestig verder dat ’n meer holistiese en omvattende reaksie nodig is,” voeg Roets by.

Deel van die plaasmoordkrisis is dat senior politici, ook in die regerende party, graag geweld teenoor boere romantiseer in hul uitsprake. Slagoffers word gereeld blameer vir hierdie misdade en daar word beweer dat boere hul gedrag en ingesteldheid moet verander as hulle wil hê dat plaasmoorde moet stop.

“Dit alles dui daarop dat ’n groot deel van die krisis by die ingesteldheid en traak-my-nieagtige houding van die regering lê en om briewe hieroor te publiseer gaan geen verskil maak as dit nie opgevolg word met daadwerklike optrede binne die regering om die regering se ingesteldheid te verander nie. Daar moet ook daadwerklike optrede op grondvlak wees om mense te beveilig.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN