Header Artwork
AfriForum vra dat munisipale bestuurder tronkstraf kry

Die burgerregteorganisasie AfriForum was vandag in die Noordwes Hooggeregshof in Mahikeng om toe te tree tot die Koster-hofgeding om te verseker dat geregtigheid vir die mense van dié dorp geskied. AfriForum het eerstens die hof Dinsdag genader om te verklaar dat die munisipale bestuurder ’n hofbevel geminag het en ook om as vriend van die hof (amicus curiae) toegelaat te word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, tree namens die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) op in die hofgeding om te verklaar dat Joseph Mogale, munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit, ’n hofbevel geminag het deur geen poging aan te wend om die water- en rioolwerke op Koster reg te ruk nie. Nel het betoog dat Mogale se verskonings en aanname dat “historiese uitdagings” hom aan bande gelê het, geen verweer is vir die doelbewuste versuim van sy pligte nie. Nel het aangevoer dat die minagting van hofbevele ernstige gevare inhou omdat hofbevele bindend is vir alle landsburgers. AfriForum vra dus dat Mogale 90 dae tronkstraf opgelê word weens minagting van die hof. Uitspraak word voorbehou in dié aansoek.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hoop dat die hof ’n sterk boodskap aan ander munisipale bestuurders en staatsamptenare sal stuur wat die publiek versaak deur swak of geen dienslewering nie. “Ons vra dat die munisipale bestuurder toegesluit word weens sy minagting van die hofbevel. Staatsamptenare is aanspreeklik teenoor die burgery en AfriForum sal voortgaan om gevalle soos dié fyn dop te hou.”

Carel van Heerden van die KBI sê Mogale versuim steeds om sy verantwoordelikheid na te kom om te verseker dat riool nie in die Koster- en die Elandsrivier inloop nie. “Die KBI bestuur slegs die aanlegte en nie die groter water- en rioolstelsels nie. Ons hande is skoon, maar die munisipaliteit en die munisipale bestuurder kom nie hul wetlike pligte na nie.”

Die dienstemaatskappy Pionier, wat tans die aanlegte namens die KBI bestuur, het ’n teenaansoek in die hof geloods nadat hy tot die hofsaak gevoeg is. Volgens Johan Kruger, uitvoerende voorsitter van Pionier, vra dié maatskappy vir ’n hofbevel dat Pionier die aanlegte mag bestuur totdat die saak finaal voor die hof bereg is. “Ons kan eenvoudig nie toelaat dat die gemeenskap weer versaak word deur swak dienslewering en geen of vuil water nie.”

Laastens is AfriForum se aansoek om as vriend van die hof toe te tree (amicus curiae) Dinsdag aanvaar. Dit is om die belange van ander gemeenskappe, wat in dieselfde omstandighede as Koster en Swartruggens is, te bevorder om dienste te verkry. “Die oorgrote meerderheid van AfriForum se 155 takke oor die land heen is in dieselfde bootjie as die gemeenskappe van Koster en Swartruggens. Ons wil die hof bewus maak van die nood vir ’n volhoubare oplossing in hierdie gemeenskappe, wat ook as model kan dien vir ander gemeenskappe wat genoodsaak is om self dienste te bestuur weens die inploffing van munisipale dienslewering,” sê Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder vir Gemeenskapstrukture.

Die saak duur voort.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN