Header Artwork
AfriForum verwelkom departement se ommekeer oor COVID-19-matrieks tydens eindeksamen

AfriForum het die Departement van Basiese Onderwys se aankondiging verwelkom dat matriekleerders wat positief toets vir COVID-19 of simptome van die virus het, wel die eindeksamen sal kan aflê. Dit volg nadat die departement aanvanklik aangekondig het dat matrieks wat positief getoets het of simptome toon, nié toegelaat sal word om vanjaar eksamen te skryf nie, maar eers met die aanvullende eksamen in 2021 ’n geleentheid sal kry.

Die gewysigde regulasies behels onder meer dat leerders wat positief getoets het vir COVID-19 of ’n temperatuur van 38̊ Celsius of hoër het op die dag van die eksamen, in ’n afsonderlike lokaal moet skryf, onmiddellik ná die eksamen na ’n dokter verwys moet word vir mediese aandag, en nie toegelaat mag word om met ander leerders te sosialiseer nie. Die departement het ook ’n beroep gedoen op die ouers en voogde van matrikulante wat positief getoets het vir die virus, om skole vroegtydig in kennis te stel sodat skole die nodige reëlings kan tref.

Volgens Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum, is dit AfriForum se standpunt dat elke leerder wat gereed voel om die eindeksamen af te lê, toegelaat moet word om dit te doen, mits die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is om ander leerders te beskerm.

“Dit sou uiters onregverdig gewees het van die departement om te diskrimineer teen leerders wat positief toets vir COVID-19 of simptome toon, veral met betrekking tot die aflê van een van die belangrikste eksamens van hul lewens. Die besluit dat alle matrikulante wel mag voortgaan met die aflê van die eindeksamen – onderhewig aan sekere veiligheidsmaatreëls – was dus die regte een. Ons moedig ook alle leerders aan om veral in hierdie tyd die COVID-19-maatreëls te gehoorsaam om te verseker dat hulle gesond bly tydens die eindeksamen.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN