AfriForum het ’n beroep op die regering gedoen om die SAUK te laat privatiseer. Dít volg nadat dit onlangs aan die lig gekom het dat die SAUK in ’n ernstige finansiële verknorsing is en nie in staat is om werknemers te betaal nie.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die SAUK die afgelope tyd een verleentheid na die ander in die gesig staar. Gedurende 2016 het meer as 100 SAUK-werknemers klagtes by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ingedien weens onbillike afdanking. ’n Vaardigheidsoudit wat in 2014 gedoen is, het onder meer bevind dat 60% van senior bestuurders nie aan die minimum vereistes vir strategiese denke op bestuursvlak voldoen nie en 56% nie voldoende bevoegdheid in probleemoplossing het nie.
Die mate van regeringsinmenging by die SAUK is ook een van die toonaangewende redes wat deur Freedom House, die internasionale waghondorganisasie, aangevoer word waarom Suid-Afrika se pers slegs as “gedeeltelik vry” beskryf kan word.
“Die enigste rede waarom hierdie krisis voortduur is omdat die SAUK ’n staatsinstelling is wat aan die regering rapporteer. Reddingsboeie kan elke keer uitgegooi word om die SAUK te red wanneer dit in ’n finansiële krisis is, wat daarop neerkom dat onbevoegde bestuurders weens hul politieke verbindinge in hul posisies beskerm word. Die vryemarkstelsel en die kompetisie wat inherent deel van die privaat sektor is, sal hierdie vlakke van wanbestuur uitskakel. Privatisering sal die SAUK dwing om die nare feite in die gesig te staar en meer verantwoordelike bestuursbesluite te neem,” sê Roets.
City Press het Sondag berig dat ’n interne memorandum, wat aan bestuurders in die SAUK gerig is, onlangs uitgelek het. Die memorandum lees: “Ons het slegs R104 miljoen beskikbaar om krediteure op 31 Maart 2017 te betaal,” en ook “afdelings se versoeke vir betalings is meer as wat beskikbaar is”.
Gevolglik het die SAUK ’n lys van kritieke verskaffers opgestel wat munisipaliteite, universiteite en Telkom insluit. ’n Totaal van R30 miljoen word vir hierdie doel opsy gesit. Die restant sal aan die onderskeie afdelings betaal word gebaseer op die persentasie gebruik/spandering ten opsigte van betalings aan skuldeisers per afdeling.