Header Artwork
AfriForum versoek dringende vergadering met Ramaphosa

AfriForum het vandag ’n ope brief aan president Cyril Ramaphosa gerig waarin dié burgerregteorganisasie ’n dringende vergadering met hom versoek om plaasmoorde en die toekoms van Afrikaners as kultuurgemeenskap in Suid-Afrika te bespreek.

Die doel van die brief is om die president in kennis te stel dat die heersende spanning oor plaasmoorde nie net kan toeneem nie, maar dat voorvalle soos dié in Senekal heel waarskynlik weer sal gebeur.

AfriForum wil onder meer ’n einde sien aan –

  • die verwydering en vernietiging van Afrikanerstandbeelde en -monumente;
  • diskriminasie teen Afrikaners en Afrikaanssprekendes in openbare instellings vir onderwys;
  • haatspraak en aanhitsing deur invloedryke politici om geweld teen Afrikaners te pleeg;
  • die stereotipering van Afrikaners as “gronddiewe”; en
  • die versuim om plaasmoorde te prioritiseer.

“Die president moet begryp dat die tragiese dood van Brendin Horner – en die duisende ander wat al in plaasaanvalle vermoor is – die simptoom is van ’n dieper probleem; van ’n gevoel van vervreemding onder Afrikaners wat voel dat die Suid-Afrikaanse regering hulle as tweedeklas burgers beskou,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie.

“Die vraag of die plaasmoordkrisis ernstig opgeneem word, kan nie beantwoord word deur die woorde van die president en die minister van Polisie nie, maar deur optrede wat uit dié woorde spruit. AfriForum versoek dus ’n dringende vergadering met die president om die toekoms van die Afrikanergemeenskap in hierdie land te bespreek en om praktiese stappe voor te stel om te verseker dat daar ook ’n toekoms vir ons gemeenskap is, ondanks die feit dat dit ons ’n minderheid is,” sluit Roets af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN