Header Artwork
AfriForum: Uitspraak oor Unisa-taalbeleid reuse-oorwinning vir Afrikaans

AfriForum beskou die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl ten gunste van AfriForum se saak vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) as ’n reuse-oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en ook vir taalregte in die land.

Die Hof het bevind dat Unisa se huidige taalbeleid – wat slegs vir Engels as primêre medium van onderrig voorsiening maak – ongrondwetlik en onregmatig is. Die Hof het ook gelas dat die universiteit prominent kennisgewings in drie Afrikaanse koerante en op sy eie webwerf moet aanbring om die uitspraak onder studente en die publiek se aandag te bring. Die kennisgewing moet ook ’n volledige lys insluit van alle modules wat tot met die aanvaarding van die huidige beleid in April 2016 in Afrikaans aangebied is, sodat voornemende studente wat daarvoor wil inskryf, die vakke nou weer van eerstejaarsvlak af kan neem. Dié vakke moet nou weer volledig in alle akademiese jare in Afrikaans aangebied word.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is die uitspraak – ná ’n stryd van bykans vyf jaar – van reusebelang vir alle Afrikaanse studente in die land, maar ook vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal.

“Die feit dat die Hoogste Hof van Appèl hierdie uitspraak gelewer het, is van groot belang – dit is die hoogste hof wat nóg ten gunste van Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak uitspraak gelewer het. Dat ’n kostebevel boonop ook teen Unisa gelewer is, bewys die morele hoë grond van studente wat hul reg op onderrig in hul moedertaal opeis.”

“Dit is belangrik dat daar uiteindelik erken word dat toegang tot tersiêre studie uitgebrei moet word om nie net ruimte vir Engels-eerstetaalsprekers te skep nie, maar meer moedertale te akkommodeer. Unisa het onlangs juis weer Afrikaans uitgesluit van planne om personeel en studente aan te moedig om meer tale te bemeester. Die uitspraak beklemtoon dat Afrikaans ook ’n plek op staatsondersteunde kampusse het,” sluit Bailey af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN