Die burgerregtegroep AfriForum steun Krieket Suid-Afrika (KSA) se lederaad in sy besluit om nie die tussentydse raad wat deur die Minister van Sport, Kuns en Kultuur voorgestel is, aan te stel nie. Dít volg nadat Minister Nathi Mthethwa ’n nuwe tussentydse raad aangewys het om beheer oor die sport se hoogste besluitnemende liggaam te neem.
AfriForum is van mening dat die huidige moeras van probleme en bestuurskwessies wat KSA die afgelope paar jaar teister, regstreeks voortspruit uit politieke inmenging en die regering se lamsakkige benadering tot aanspreeklikheid in die sport. Ondanks die oënskynlik goeie bedoelings van Minister Mthethwa se besluit om die tussentydse raad aan te stel, is dit duidelik dat hierdie besluit neerkom op growwe inmenging deur die uitvoerende gesag in die sake van krieket. Soos AfriForum onlangs beklemtoon het in ’n klag wat by die Internasionale Krieketraad (IKR) ingedien is, gaan Suid-Afrikaanse krieket al baie jare lank gebuk onder regeringsinmenging in die sport.
Ronald Peters, bestuurder van Sport by AfriForum, sê die IKR se statute verbied lede soos KSA om regeringsinmenging in die administrasie van die sport toe te laat.
“Ingevolge sy eie grondwet moet KSA nie regeringsinmenging in krieketsake toelaat nie. Die belangrikheid van hierdie beginsel, in die lig van Suid-Afrika se geskiedenis, kan nie oorbeklemtoon word nie. Onregverdige regeringsinmenging in Suid-Afrikaanse sport het gelei tot die stelselmatige ontsegging van regte en wanadministrasie, wat nadelig was vir sport oor die algemeen,” sê Peters.
“Politieke inmenging in sport is tweeledig van aard. Óf jy hou by die beginsel óf jy skend dit. Daar mag geen ruimte vir die regering wees om druk op enige sportliggame uit te oefen nie.”
AfriForum is daartoe verbind om te verseker dat krieket in Suid-Afrika geadministreer en ontwikkel word tot voordeel van alle Suid-Afrikaners sonder die belemmering van inmenging deur die regering.