Header Artwork
AfriForum Springbok Vasbyt virtueel aangebied

Die AfriForum Springbok Vasbyt-padwedloop vind jaarliks op die tweede Saterdag in Julie plaas. Dié wedloop is enig in sy soort omdat dit die entoesiasme vir padwedlope met ’n passie vir militêre geskiedenis en tradisie kombineer. Dit herdenk jaarliks ’n gewone Suid-Afrikaanse soldaat wat in die twintigste eeu aan een of ander gewapende konflik deelgeneem en die hoogste offer gebring het.

Die soldaat wat vanjaar in herinnering geroep is, is stafsersant Almerindo Mourão da Costa (1944-1980), ’n ontvanger van die Pro Merito-medalje. Hy is in Portugal gebore en het daar sy loopbaan begin in die Direção-Geral de Segurança, ’n afdeling van die Portugese polisie wat vir staatsveiligheid verantwoordelik was. Hy is na Angola oorgeplaas. Toe dit teen die einde van 1974 duidelik word dat die Portugese regering aan Angola sou onttrek, is ’n operasie van stapel gestuur om sommige van die Portugese soldate en polisiemanne vir die Suid-Afrikaanse Weermag te werf. Mourão da Costa was een van die mans wat besluit het om hul militêre loopbaan só voort te sit. Hy het daarin geslaag om by die Spesiale Magte aan te sluit. Tydens Operasie Savannah op 23 November 1975 is hy in albei bene gewond. Sy toestand was ernstig, maar teen alle verwagtinge in het hy oorleef en na die Recces teruggekeer. Hy was onder meer betrokke by die opleiding van die nuutgestigte 32-Bataljon, waar hy die hoogste agting onder sy manskappe en bevelvoerders geniet het. Hy het tydens ’n geheime aksie in 1980 gesterf, en sy oorskot is nooit gevind nie. Hy het sy lewe opgeoffer vir sy aangenome land, maar soos met vele helde van die verlede het sy dapper optrede in die newels van die verlede verlore geraak. Deur hom te huldig, roep die AfriForum Springbok Vasbyt-padwedloop sy optrede en ook dié van soveel ander in herinnering.

Vanjaar se wedloop het op 11 Julie 2020 plaasgevind. Weens die COVID-19-inperking is daar besluit om die wedloop virtueel aan te bied. Alle inskrywingsgeld is aan die Voortrekkermonument geskenk.

’n Deurlopende kenmerk van die wedloop is die herdenking- en wegspringseremonie. Onder die eregaste by vanjaar se geleentheid – wat deur Facebook gebeeldsend is – was Erna da Costa, die weduwee van Almerindo Mourão da Costa. Hierdie keer kon die Harvard-vliegtuie nie soos gebruiklik oorvlieg nie, want die lughawe was steeds gesluit; twee van die vlieëniers wat jaarliks vir die verbyvlug verantwoordelik is, Darryl Wright en Heidi van Gass van die Harvard Klub, was egter by die seremonie. Vader Lameque van die plaaslike Portugese gemeente van die Rooms-Katolieke Kerk het die verrigtinge met skriflesing en gebed in Portugees begin. Herrie Venter, trompetspeler, en Craig Herwil, doedelsakspeler, het aangrypende bydraes gelewer, waarna die gebulder van die Voortrekkermonument-kanon die aanvang van die wedloop aangekondig het.

Sowat 265 atlete het aan die wedloop deelgeneem. Hulle was regoor die aardbol versprei. Mense van Skotland, Ierland, die VSA, Botswana en Namibië het ingeskryf. Plaaslik het mense in onder meer Pretoria, Johannesburg, Malmesbury. Piketberg, Beacon Bay, Durbanville, Merweville, Gordonsbaai, Somerset-Wes, Strand, Bluewater Bay, Musina, Ellisras, Phalaborwa, Tzaneen, Thabazimbi, Nelspruit, Rensburg, Carletonville, Vanderbijlpark en Potchefstroom weggespring.

Sommige deelnemers het ook groot uitdagings die hoof gebied. In Klein Brakrivier moes die atlete wag vir stormsterk wind en reën om effe te bedaar voor hulle kon wegspring. Ten spyte van haglike omstandighede het hulle tog vasgebyt – om die naam gestand te doen van sowel die wedloop as die deursettingsvermoë van die mense wat jaarliks gehuldig word.

Die volgende dag het Erna da Costa laat weet: “Ek kan nou nog nie oor gister se mooi kom nie. Hoe bly sou Mourão gewees het as hy dit kon sien. Dankie weer eens vir al julle moeite en opoffering. Hierdie is iets wat vir altyd in die mooi herinneringe sal voortduur.”

Dit was opnuut ’n voorreg vir AfriForum om by die verrigtinge betrokke te wees. Ons dra ook ons dank oor aan Leon Bezuidenhout en sy span, wat vir die uitmuntende beplanning, reëlings en sukses van hierdie unieke wedloop verantwoordelik is.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN