Header Artwork
AfriForum sluit #VegEnBou-week in die Moot af

AfriForum se onderskeie takke in die Pretoriase Moot het verlede week hard gewerk tydens sy #VegEnBou-week om die gemeenskap te beveilig.

Tydens die week is veiligheidsoudits by vyf skole in die gebied gedoen: Laerskool Pierneef, Laerskool Villieria, Laerskool Wonderboom-Suid, Hoërskool Wonderboom en Hoërskool Tuine.

Dié oudit word by skole gedoen om die veiligheid van onderwysers en leerders te verseker en om seker te maak die skool het ontruimingsprosedures en noodplanne. ’n Terreininspeksie word ook tydens die oudit gedoen om swakpunte op die terrein aan die skoolbestuur uit te wys.

Verder het AfriForum se Oos-Moot-buurtwag ’n patrollie gedoen op die Magaliesberg tussen Slagtersnek en 28ste Laan, terwyl AfriForum se Wes- en Sentraal-Moot-buurtwagte die berg tussen 10de Laan en 32ste Laan gepatrolleer het.

“Sowat 30 mense het aan die bergpatrollie deelgeneem. Die patrollie is gehou omdat misdadigers die berg dikwels gebruik as ’n ontsnappingsroete en wegkruipplek,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-area.

Op 2 Oktober het AfriForum se Wes- en Sentraal-Moot-buurtwagte ’n gebeurlikheidsplan ingeoefen. In dié geval het die buurtwagte ’n plan geoefen in geval ’n voertuig gesteel word.

Die week het op 3 Oktober tot ’n einde gekom toe AfriForum se Oos- en Sentraal-Moot-takke ’n skoonmaakprojek gehou het om die plaaslike spruit op te ruim.

“Takke en gras is gesny en rommel is opgetel. Die spruit moet skoongehou word omdat dit as ’n wegkruipplek vir misdadigers en sluipslapers dien,” sê Steinberg.

“AfriForum skep hoop en ’n toekoms met ons #VegEnBou-plan. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul gebiede neem en proaktief en selfstandig optree. Elke klein projek dra by tot die welstand en selfstandigheid van jou gemeenskap,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid-area.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN