Die AfriForum-tak in Zeerust het op Saterdag 22 Mei slaggate in dié dorp in samewerking met NWK en Toyota gevul. 119 sakkies teer – gelykstaande aan drie ton – is gebruik om 142 slaggate te vul. Die fokusareas was Drooge- tot Zee-, en Jean- tot Bergstraat. Die totale koste van die projek beloop ongeveer R12 000.
“Die strate in Zeerust is in ’n onveilige toestand omdat die munisipaliteit ne die nodige instandhouding en herstelwerk doen nie. Ons kan eenvoudig nie meer bekostig om agteroor te sit en te wag dat die munisipaliteit sy verantwoordelikhede nakom nie – ons moet dit self doen. Ons wil ondernemings en lede van die gemeenskap uitnooi om by ons projekte betrokke te raak. Saam kan ons ’n groter verskil maak,” sê Pierre van der Walt, ondervoorsitter van AfriForum se Zeerust-tak.
“Hierdie projek is ’n reuse sukses en’n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word indien ’n gemeenskap saamstaan en besef hulle is nie aan die swak dienslewering van die munisipaliteit oorgelaat nie. Baie dankie aan NWK wat 20 sakkies teer geskenk het, Toyota wat toerusting beskikbaar gestel het, en elke vrywilliger wat gate uitgekap en gevul het. Dankie ook aan die vroue wat kos voorsien het. AfriForum en sy lede sal aanhou toetree om die gemeenskap by te staan waar munisipaliteite te kort skiet,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
AfriForum wil graag ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Word deel van die oplossing: SMS “Zeerust” na 45351 (R1) of skakel Pierre van der Walt by 082 569 8564.