Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark het op 26 Junie saam met lede van die gemeenskap ’n volhoubare projek afgeskop met ’n skoonmaakaksie in die CW2-area. Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om Vanderbijlpark skoon, netjies en veilig te hou, het die tak en gemeenskap laat besluit om self in te spring om die dorp reg te ruk.
Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark gaan op ’n weeklikse basis die dorp skoonmaak, deurlopend slaggate vul en substasies verf om die dorp netjies te hou. Vanderbijlpark was in Junie twee keer sonder water as gevolg van pype wat gebars het en die C-areas is gereeld sonder krag as gevolg van gebrek aan instandhouding by substasies.
“Dit is hartseer dat ’n gemeenskap moet betaal vir dienste wat die munisipaliteit nie in staat is om te lewer. Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word vir hulle swak dienslewering, maar tot dan sal die gemeenskap self die dorp skoon en netjies hou,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.