Die AfriForum-tak in Tzaneen het op 24 April 2021 in samewerking met die AfriForum-buurtwag die parkie in Maritzstraat skoongemaak en opgeknap. Dié parkie was besaai met rommel en het ’n gereelde woonplek vir sluipslapers geword. Die tak het nuwe speelapparate opgerig en verbeterings aan die bestaande apparate aangebring.
“Die doel van dié projek is om ’n plek vir kinders te skep waar hulle weer kan speel. Ons beoog ook om oggendmarkte hier te hou,” sê Shuan Potgieter, omgewingsakebeampte van AfriForum se Tzaneen-tak.
Die tak en buurtwag bedank graag vir Tolstoi Kruger, JP Kruger en Pretorius Broers Konstruksie vir die gebruik van hul toerusting.
“Sodra ’n gemeenskap saamstaan, kan mens die verskil dadelik opmerk. Die dorp lyk nie net mooier nie, maar dit laat ’n mens ook beter voel. Ons hoop dit sal al die inwoners aanspoor om by die tak aan te sluit en met soortgelyke projekte te help,” sê Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
Die tak gaan vir die res van die week nog by die parkie in Maritzstraat doenig wees. Inwoners wat graag hand wil bysit, kan gerus vir Shuan Potgieter by 079 056 0896 skakel.
Om by AfriForum se Tak in Limpopo betrokke te raak, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).