AfriForum se tak in Stellenbosch het op 12 November drie Kaapse essenhoutbome (Ekebergia capensis) by Huis Horison geplant.
Volgens Ria Crafford, omgewingsbeampte van AfriForum se Stellenbosch-tak, sal die bome eendag welkome koelte teen die somerhitte bied, terwyl die versorging van die bome deel van Huis Horison se ekoterapieprogram vir inwoners sal uitmaak.
Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, sê dié burgerregteorganisasie het vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant.
“Deur inheemse bome te plant, is ons nie net besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Die algemene boom wat AfriForum vanjaar veral plant is die Kaapse essenhout,” sê Van Heerden.
Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms. Sluit vandag nog by AfriForum se Stellenbosch-tak aan: SMS “Stellenbosch” na 45265 (R1).