Die AfriForum-tak in Standerton het hulle slaggatprojek op 3 Maart van stapel gestuur en reeds een ton teer gebruik om slaggate in Standerton te herstel. Hierdie projek word in samewerking met Lekwa Clean Up, Ons Radio, Beeswinkel, Jeria Mediese Nooddienste, Pro-rub en talle vrywilligers in Standerton gedoen.
“Die herstel van slaggate is vir ons veral ’n prioriteit aangesien die munisipaliteit nie daarin slaag om basiese herstelwerk te verrig nie. Die paaie is baie onveilig en ons wil graag die gemeenskap aanmoedig om ons nie net te laat weet waar herstelwerk gedoen moet word nie, maar ook self in te spring en deel te word van dié projek. Saam kan ons ’n verskil maak in ons dorp,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Mpumalanga.
“Hierdie is een van die tak se deurlopende projekte en ons sal soortgelyke, volhoubare projekte deur die loop van die jaar aanpak,” sê Pieter Botha, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak. “As ons as ’n gemeenskap saamstaan en saamwerk om probleme uit die weg te ruim, sal ons suksesvol wees.”
Raak vandag nog betrokke by hierdie projek en maak ’n verskil in jou gemeenskap. Skakel vir Bronwen Pretorius by 066 486 7609 om meer uit te vind.