Header Artwork
AfriForum se Spel-en-Speel-kompetisie verrig wondere vir laerskoolleerders se taalontwikkeling

AfriForum se Spel-en-Speel-kompetisie, wat in samewerking met die Onafhanklike Skool Eduplus en Volksblad aangebied word, is vanjaar tien jaar oud. Hierdie kompetisie verrig al reeds ’n dekade lank wondere vir laerskoolleerders deur hulle Afrikaanse lees-, skryf- en spelvermoëns te bevorder.

Die kompetisie is deel van AfriForum Onderwys se skakelprojekte vir die bevordering van Afrikaans as moedertaal en onderrigtaal op skoolvlak.

Dié kompetisie is elke jaar baie gewild – vanjaar is 12 skole betrokke en meer as 110 leerders neem in die onderskeie afdelings deel. Leerders kompeteer in groepe en kry beurte om verskillende woorde te spel totdat slegs foutlose spellers oorbly. Woorde wissel van moeilik en lank tot alledaags en ongewoon. Thiamé Hoffman, ’n graad 6-leerder van die Laerskool Universitas, het reeds in die eerste rondte van die kompetisie 100 woorde na mekaar korrek gespel – voorwaar ’n besonderse prestasie!

“Ons Suid-Afrikaanse onderwysstelsel gaan gebuk onder talle probleme, waarvan die tekort aan gehalteonderrig seker die grootste is. Talle leerders in Suid-Afrika kan nie lees of skryf nie en sukkel om begrip te toon. Met AfriForum se Spel-en-Speel-kompetisie word hiérdie vaardighede reeds op laerskoolvlak tot só ’n mate bevorder dat hulle nie later probleme met lees of spelling ervaar nie,” sê Carien Bloem, AfriForum se bestuurder vir Onderwys.

 

“Tydens hierdie kompetisie neem sowel eerste- as tweedetaalsprekers deel en dit is lekker om te sien hoe ’n moedertaal ook meertaligheid bevorder,” voeg Bloem by.

AfriForum Onderwys bied later vanjaar nóg ’n opwindende Afrikaanse moedertaalkompetisie vir laerskoolleerders in die Vrystaat aan – Dink of Sink, ’n onvoorbereide debatskompetisie. Hierdie debatskompetisie word ook nasionaal op hoërskoolvlak aangebied. AfriForum Onderwys nooi graag laerskool- en hoërskoolleerders uit om in spanne van drie vir hierdie kompetisie in te skryf:

  • Dink of Sink vir laerskole: 30 Julie 2020 by die Onafhanklike Skool Eduplus.
  • Dink of Sink vir hoërskole: 23 Julie 2020 by die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje.

Besoek www.dinkofsink.co.za vir meer inligting oor die Dink of Sink-kompetisie vir onvoorbereide debat wat in ander streke ook aangebied word.

Hooffoto, voor vlnr: Niki Muller (Eunice Meisieskool), Thiamé Hoffman (Laerskool Universitas), Mia Greeff (Laerskool Universitas), Aiden Pan (Zastron Gekombineerde Skool), Evert Ceronio (Laerskool Universitas), Lungelo Mphepuka (Zastron Gekombineerde Skool) en Gautam Agarwal (Onafhanklike Skool Eduplus).
Agter vlnr: Nicolene Müller (AfriForum), Ronelle Ceronio (Hoof: Eduplus Onafhanklike Skool), Carien Bloem (AfriForum) en Paul Müller (Vloksblad).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN