Die AfriForum-buurtwagte in Naboomspruit en Potgietersrus het op 16 Mei gehelp om brande in die Naboomspruit omgewing te blus in samewerking met die Naboomspruit-brandweer en gemeenskappolisiëringsforum.
’n Bejaarde man wat probeer het om ’n brand te blus wat op sy plaas ontstaan het, is egter deur die vlamme omring. Hy het brandwonde opgedoen en is na die hospitaal in Naboomspruit gehaas.
Daar is ook by twee ander liggings gehelp om brande onder beheer te bring. Die Potgietersrus-buurtwag het ook op pad terug Potgietersrus toe ondersteuning gebied by ’n motorvoertuigongeluk op die R101 totdat die nooddienste opgedaag het.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe almal saamstaan om te help,” sê Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak. “Ons het nie eers met die Potgietersrus-buurtwag geskakel om hulp te vra nie – hulle het net geweet hulle moet kom help.”
“Ons sien hoe die land oral om ons agteruit gaan. Spontaan vat mense net hande, want almal besef: Om bloot te sit en oor staatsverval te praat, gaan geen verandering meebring nie. Elkeen se bydra kan egter ’n verskil maak,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.
Raak by ’n AfriForum-buurtwag in Limpopo betrokke: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).