AfriForum se Mooirivier-takke het die afgelope maand meer as 2,5 ton voedsel aan 1 806 behoeftige gesinne uitgedeel. Die aksie is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, Saai en verskeie ander organisasies aangepak om gemeenskappe tydens die staat van inperking te ondersteun.
Dit volg nadat ’n groot nood in gemeenskappe ontstaan het nadat sommige mense nie tydens die inperkingstydperk hul salaris ontvang het nie of selfs hul werk verloor het as gevolg van ondernemings wat hul deure moes sluit. ’n Taakspan wat uit AfriForum, Saai en Solidariteit Helpende Hand bestaan, is op die been gebring om die verspreiding van voedsel na gemeenskappe op ’n georganiseerde manier te bestuur.
Die takke in die distrik – Potchefstroom, Klerksdorp, Heilbron, Parys, Sasolburg, Stilfontein en Ventersdorp – het ook meer as 235 liter handreiniger en 1 800 gesigmaskers versprei om gemeenskappe teen die opdoen van COVID-19 te beskerm.
“Dit is wonderlik om te sien dat gemeenskappe saamstaan en mekaar in dié moeilike tyd ondersteun. Baie van die kospakkies wat versprei word, is moontlik gemaak danksy skenkings wat ons by mense in die gemeenskap ontvang het. Dit sou nie moontlik gewees het om dié projek te dryf sonder die hulp van die gemeenskap nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier
“Ons weet ook daar is nog baie mense wat hulp benodig en ons sal so ver moontlik almal probeer help. Ons hulpbronne is egter soms beperk, maar ons vertrou dat ons met die hulp vanuit die gemeenskap sal kan help,” voeg Pretorius by.
AfriForum het ook ’n noodfonds vir elke tak geskep wat gebruik word om hierdie aksies volhoubaar voort te sit. Lede van die publiek kan skenkings aan die noodfonds maak wat weer gebruik word om noodsaaklike produkte vir die behoeftiges aan te koop. Mense wat skenkings wil maak, kan hul naaste tak kontak vir meer inligting of die taknoodfonds-blad op AfriForum se webtuiste besoek.
Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om ’n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak. Word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45351 (R1) indien jy in Noordwes woon en na 31481 (R1) in jy in die Vrystaat woon.