AfriForum se tak in Krugersdorp het onlangs ’n jeugportefeulje gestig. Met die stigting van dié opwindende portefeulje is Ethan du Plessis, Bianca Gouws en Jessica Fourie aangewys as die drie lede van die portefeulje se bestuurskomitee. Dié drie het elkeen ’n gemeenskapsprojek voltooi om tot dié posisie verkies te word.
Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, is dit belangrik om die jeug te betrek by aktiwiteite in gemeenskappe. “Vandag se jeug is môre se leiers. Dis lekker om te sien dat jongmense ook omgee vir hul plaaslike gemeenskappe. Ons moedig meer jongmense aan om betrokke te raak en ’n verskil te maak,” sê Blignault.
Du Plessis, Gouws en Fourie het elkeen self ’n gemeenskapsprojek aangepak om werklik ’n verskil in die Krugersdorp-gemeenskap te maak.
Du Plessis het ’n gemeenskaplike groentetuin begin by die Golden Age-tehuis vir bejaardes in Wentworthpark. Die tuin is sowat 10 m by 5 m groot en is beplant met beet, spinasie en wortels vir die winterseisoen. Die tuin is aangelê met ’n sentrale besproeiingspunt wat gekoppel is aan ’n stoortenk vir reënwater en ’n boorgat. Die groentetuin is só ontwerp dat dit minimum onderhoud nodig het.
Bykomend het Du Plessis 500 000 groentesade geskenk sodat die tuin volhoubaar voortgesit kan word. Hy het ook kenners genader sodat die sade die hoogste sukseskoers moontlik kan behaal. Du Plessis beplan om vyf soortgelyke groentetuine voor die einde van die jaar te begin. Alles wat Du Plessis vir die gemeenskaplike groentetuin gebruik het, is deur die gemeenskap self geborg.
Vir Gouws se gemeenskapsprojek het sy ’n gemeenskaplike area gerehabiliteer sodat dit weer deur die gemeenskap gebruik kan word vir ontspanning. Sy het ’n voormalige tennisbaan, wat later omskep is in ’n area waar die gemeenskap kan fietsry, opgeknap. Sowat 140 kubieke meter rommel is weggery. Boonop is talle mure herbou, hekke is vervang en nuwe ligte is opgesit om die perseel te beveilig. Die perseel sal voortdurend deur die gemeenskap skoongehou word. Toekomsplanne vir die area is onder meer om weer netbalbane te bou en om die nabygeleë swembad skoon te maak sodat die gemeenskap dit weer kan gebruik.
Fourie se projek het ’n fondsinsameling ingesluit om ’n klimraam te koop vir die Cradle Ark-tehuis. Die gemeenskap het egter ingespring en die klimraam geborg sodat die geld wat ingesamel is vir die verbetering van die tehuis gebruik kan word. Die tak het onderneem om die tehuis verder te help met die sny van die gras.
“Dit is belangrik dat die jeug ’n geleentheid kry om hul leierskap en kreatiwiteit te bewys. Ek is baie trots op dié drie jong leiers en ek sien uit daarna om saam met hulle te werk,” sê Martin Lombard, voorsitter van AfriForum se Krugersdorp-tak.
Maak vandag nog ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap deur aan te sluit by jou plaaslike AfriForum tak: SMS jou naam na 45342 (R1).