Header Artwork
AfriForum eis Cele se afdanking

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur waarin die organisasie eis dat die Minister van Polisie, Bheki Cele, sy amp moet verlaat.

AfriForum meen Cele het al herhaaldelik deur sy handelinge, nalatigheid en uitlatings bewys dat hy nie geskik is vir só ’n kardinale rol in ’n land wat lamgelê word deur misdaad nie.

Die onlangse onthulling dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se interne stelsels – waarop onder meer bewysstukke gestoor en geliasseer word – en die stelsel waarop vuurwapens aan polisielede uitgereik word, al maande lank buite werking is, is maar net een só ’n voorbeeld. Die stelsel is afgeskakel ná maande se beweerde wanbetaling deur die polisie. Boonop het die SAPD glo net eenvoudig nie gehoor gegee aan hofbevele en ander gesagstrukture rondom die betaling van die stelsels nie. Die feit dat die stelsels nie na behore werk nie, is tot die nadeel van die hele strafregstelsel.

“Cele se boeliehouding wanneer hy by polisie-operasies betrokke raak, word deur baie van sy ondergeskiktes nagevolg, met die gevolg dat die SAPD gereeld gewelddadig raak met lede van die publiek oor ongegronde redes. AfriForum het al talle burgers bygestaan en ook gehelp om die SAPD vir skadevergoeding te dagvaar,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Die minister het selfs onlangs tydens ’n televisieonderhoud erken dat hy nie weet wie die hoof van misdaadintelligensie is nie. Sy houding is traak-my-nieagtig en sy persoonlike sienings oorskadu sy oordeel om sy werk na behore te doen. Die SAPD verkrummel onder sy leiding,” sluit Kamfer af.

AfriForum het ’n veldtog geloods om lede van die publiek se steun te kry om druk op die president te plaas om van die minister ontslae te raak.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN