Header Artwork
AfriForum se Kimberley-buurtwag trek verdagtes vas wat senotaaf vandaliseer   

Die AfriForum-buurtwag in Kimberley het op 28 Januarie 2021 te danke aan Dawie Griesel, buurtwagleier, twee verdagtes aangekeer en gearresteer. ’n Gedenkplaat van die Wêreldoorlog-senotaaf in dié stad is in hulle besit gevind.

Griesel het Donderdag verby die senotaaf in Du Toitspanweg gery en opgelet hoe verwaarloos dit is. “Ek het in ’n plaaslike koerant gelees dat die monument onder vandalisme gebuk gaan en terwyl ek na die monument kyk het ek opgemerk dat ’n paar mense met ’n winkeltrollie loop en dit het verdag gelyk.” Griesel het die SAPD geskakel terwyl hy die verdagtes in sy voertuig agternagesit het. Die polisie het die verdagtes kort daarna gearresteer.

“Die vermoede bestaan dat hulle op pad was om eers die plaat in kleiner dele op te breek, waarna dit verkoop sou word,” sê prof. David Morris, hoof van argeologie en erfenis by die McGregor Museum.

“Ons as gemeenskap is keelvol dat ons erfenis nie opgepas word nie en agteruitgaan, die verantwoordelikheid kom nou na ons as gemeenskap om ons erfenis te beskerm,” voeg Griesel by.

Hierdie senotaaf is ’n gedenkteken ter nagedagtenis aan 400 soldate van Kimberley wat tussen 1914 en 1918 in die Groot Oorlog (Eerste Wêreldoorlog) gesterf het. Dit is deur die plaaslike argitek en kunstenaar William Timlin ontwerp en deur vier moeders onthul wat hul seuns of ’n eggenoot tydens die oorlog verloor het.

“Die monument is deel van Kimberley se erfenis. Dit is veral belangrik aangesien dit opgerig is ter nagedagtenis aan inwoners wat ’n belangrike rol in hierdie geskiedkundige gebeurtenis gespeel het. AfriForum gaan verdere stappe doen om toe te sien dat ons erfenis bewaar word,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN