Header Artwork
AfriForum se Centurion-tak veg teen staatsverval met sy #VegEnBou-projek

Die AfriForum-tak in Centurion het sedert die begin van sy #VegEnBou-projek reeds ’n daadwerklike verskil in verskeie gemeenskappe in dié stad gemaak. Die projek, wat van 8 tot 16 Maart duur, pak verskeie knelpunte in die gemeenskap aan sodat vooruitgang in dié stad nie verhinder word nie.

Op 8 Maart het die tak en verskeie vrywilligers begin om gras te sny by die Voortrekkermonument. Dié reusetaak het sowat drie dae geduur. Die Voortrekkermonument het vir hulp gevra nadat onlangse reën veroorsaak het dat die gras op die terrein lank en dig gegroei het. Die Voortrekkermonument ervaar weens die voortslepende COVID-19-pandemie geldelike probleme en het boonop ’n tekort aan tuinpersoneel. Die eens sigbare trappe van die gewilde amfiteater op die monument se terrein was heeltemal toegegroei. Nadat die tak ingegryp het, is die gras nou weer netjies op dié terrein. Die tak het ook sy splinternuwe trekker, wat aangekoop is om die gemeenskap mee te bedien, ingespan om dié taak aan te pak.

Die tak het op 10 Maart herwinningshokke aan die Laerskool Swartkop geskenk. Daar is afsonderlike hokke vir glas, plastiek en metaal. Leerders, onderwysers en ouers van die skool word aangemoedig om dié hokke te benut vir herwinning.

“Ons besef dat ons ’n agterstand het met herwinning in Centurion. Ons hoop om nog soortgelyke herwinningshokke op te rig, of bestaande hokke te verbeter,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

Op 11 en 12 Maart het die tak ’n aantal slaggate in die stad opgevul, veral in die Wierdapark-omgewing. Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, is altesaam 12 slaggate opgevul. “Daar is ’n toename van slaggate in Centurion, wat ’n groot gevaar vir motoriste inhou. Die slaggate kan ook aansienlike skade aan motors aanrig. Die tak het ingespring om te help nadat verskeie inwoners die slaggate aangemeld het by die munisipaliteit, wat versuim het om enigsins op te tree. AfriForum het besluit om dus self die slaggate op te vul,” sê Nel.

Die tak maak op 15 Maart ’n skenking van R10 000 aan Huis Jubilee, ’n ouetehuis vir bejaardes wat staatspensioen ontvang en dit nie kan bekostig om baie geld aan behuising te bestee nie. Die ouetehuis wil graag nuwe woonstelle bou en die tak skenk dan ook materiaal om hulle met dié projek te help.

Om die #VegEnBou-projek af te sluit, sal die tak ook ’n hommeltuig oor ’n onwettige vullisterrein laat vlieg om die omvang daarvan te bepaal, asook ’n veiligheidspatrollie uitvoer by die Centurion-begraafplaas in ’n poging om misdaad daar hok te slaan.

“In Centurion sien ons gereeld dat die plaaslike munisipaliteit sy pligte versuim om noodsaaklike dienste aan inwoners te lewer. Deur al hierdie projekte aan te pak en suksesvol te voltooi, veg ons saam teen staatsverval,” sê De Bruyn.

Die tak beplan om vanjaar verskeie groot projekte aan te pak en wil die gemeenskap graag uitnooi om meer betrokke te raak. Besoek gerus die AfriForum-tak in Centurion se Facebook-blad en sluit ook by die Telegram-groepe aan. Laai die Telegram-toep gratis af en soek na @AfriForumBuurtBot.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45341 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN