Header Artwork
AfriForum se Bloemfontein-takke verwyder honderde ton vullis tydens #VegEnBou-projek

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het op 4 Mei 2021 hul #VegEnBou-projek afgeskop deur verkeerstrepe op paaie te verf, sypaadjies en parke skoon te maak en rommel weg te ry.

AfriForum se Langenhovenpark-tak het ’n skoonmaakprojek in Du Plessisrylaan uitgevoer met behulp van hul nuut aangekoopte trekker. Aangestelde Pionier-kontrakteurs en Anchor of Hope het ook ingespring om te help. Tydens die projek is grasveld gesny, sypaadjies skoongemaak en tuinvullis bymekaargemaak.

Intussen het AfriForum se Pellissier-tak in Pellissierrylaan verkeerstrepe op die paaie rondom die President Brand Primêre Skool geverf en die AfriForum-parkie in Janfiskaalstraat skoongemaak. Sypaadjies is ook netjies gemaak.

Verder het die Rayton-Heuwelsig-tak voortgegaan om vullis in dié gebied te verwyder. Teen 1 Mei is 105 ton vullis reeds verwyder oor ’n afstand van 520 km. Op 8 Mei is ’n bykomende 87 ton vullis verwyder waartydens 189 km afgelê is. Slaggate in Dan Pienaarrylaan is ook opgevul.

“Dit is ongelooflik om te sien dat AfriForum-lede hierdie projekte behartig. Ons is dankbaar vir die gemeenskap en ondernemings se bydraes sodat ons hierdie projekte suksesvol kan uitvoer. AfriForum moedig steeds gemeenskapslede en ondernemings aan om by dié burgerregteorganisasie aan te sluit sodat ons daadwerklik ’n verskil kan maak en Bloemfontein kan herstel tot die spoggerige Rosestad soos ons almal dit ken. Die Mangaung-metro stel ons as belastingbetalers teleur en bitter min dienste word deur hulle verrig,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.

AfriForum lewer reeds sedert September 2020 ’n volhoubare vullisverwyderingsdiens aan inwoners van Bloemfontein wat by dié diens aangesluit het omdat die metro nie gereeld vullis verwyder nie. Alle lede van die publiek word aangemoedig om vir dié diens te registreer en aan te sluit.

“Ons is trots om te noem dat AfriForum se Bloemfontein-takke nou vyf volhoubare projekte in die stad dryf. Anchor of Hope gaan namens ons twee monumente op ’n maandelikse basis instandhou, naamlik die President Brand Begraafplaas en die borsbeeld van Johannes Nicolaas Brits by die Ou Presidensie. Met die aankoop van ons trekkers en aanstelling van kontrakteurs onder Pionier sal ons ook nou in staat wees om die noorde en suide van Bloemfontein op te knap,” sê Groenewald.

Registreer hier vir AfriForum se vullisverwyderingsdiens of SMS “AfriForum” na 45266 (R1) om by AfriForum se Bloemfontein-takke aan te sluit.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN