Header Artwork
AfriForum se Bloemfontein-tak hou fondsinsameling vir jong kankerlyer

AfriForum se sektor 5-tak in Bloemfontein het op 14 November ’n fondsinsameling gehou vir Kyra Burger, ’n jong kankerlyer.

Die tak het ’n pretloop gereël wat ’n 5 km- en 10 km-stap- of drafroete in Fichardtpark ingesluit het. Altesaam 167 inskrywings is ontvang en nagenoeg R9 200 is op die dag vir Kyra ingesamel.

Kyra is op die ouderdom van vyf maande met neuroblastoom fase 4 gediagnoseer, toe dit reeds deur haar lewer versprei het. Sy ontvang reeds vir twee en ’n half jaar behandeling vir die kanker. Sy het verskillende behandelings gekry waaronder chemoterapie en ’n stamseloorplanting in Augustus vanjaar. Kyra ontvang tans behandeling in Michigan in die VSA. Die proefbehandeling wat sy nou ontvang om ’n terugslag te voorkom, strek oor ’n tydperk van twee jaar.

“Ek was so dankbaar toe Ankia met my in verbinding getree het om vir Kyra ’n fondsinsameling te hou. Ons moes nog geld insamel en ek het nie geweet wat om te doen nie, maar ek het geweet die Here sal voorsien en toe kry ek die oproep,” sê Mandie Burger, Kyra se ma.

Ankia Germishuys en Desiré Labuschagne van AfriForum se sektor 5-tak het onmiddellik werk daarvan gemaak om reëlings te tref vir die fondsinsameling. Inskrywings is elektronies en by die wedloop afgehandel. Plaaslike buurtwaglede, AfriForum Jeug, VR Sekuriteit en Med24/7 Ambulansdiens het ingespring om die dag ’n groot sukses te maak met waterpunte, uitwysers en mediese bystand. Alle deelnemers wat die afstand klaar gestap of gehardloop het, het ’n medalje ontvang.

“Omdat Bloemfontein so baie stap- en wedloopaktiwiteite voor die inperking gehad het, was daar baie navrae hieroor van die publiek op sosiale platforms. Die gemeenskap was uitgehonger vir ’n lekker pretloop en dit het perfek ingeskakel met die plan om vir Kyra ’n fondsinsameling te hou. Die reaksie was uitstekend en die tak is trots daarop dat hul so ’n liefdevolle kind kan help,” sê Germishuys, ondervoorsitter van AfriForum se Fichardtpark-tak.

Indien die gemeenskap betrokke wil raak by projekte om Kyra te help, kan hul Mandie Burger skakel by 064 680 9544.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN