Header Artwork
AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vir 2021 skop af

AfriForum Sakenetwerk in samewerking met Akademia bied hierdie jaar weer aan entrepreneurs die geleentheid om aan die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie deel te neem. Dié kompetisie het op 27 Mei tydens ’n geleentheid by AfriForum Teater afgeskop waartydens Daniel Strauss as gasspreker opgetree het. Jaco Gerrits en dr. Rachel Maritz het ook as kenners opgetree tydens ’n paneelgesprek wat deur Elsje van Jaarsveld gelei is.

Daniel is die skrywer van die topverkoper Dink soos ’n miljardêr, Jaco is ’n bekroonde tegnologie-entrepreneur en Rachel het ervaring as ’n strategiekonsultant vir PWC, asook Enterprises UP, en was betrokke by strategieprojekte (onder andere die ontwikkeling, oudit en implementering van strategie) vir ander uiteenlopende maatskappye.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is baie opgewonde oor dié kompetisie wat hierdie jaar vir die vierde keer aangebied word. “Ons het hierdie jaar die beste mense genader om die beste raad en hulp aan ondernemings te gee wat graag hulle onderneming na die volgende vlak wil neem. Dit is nie aldag dat jy vir Daniel Strauss, Jaco Gerrits en dr. Rachel Maritz bymekaar kry nie.”

Mareli Swanepoel, bestuurder van projekte by Akademia, vertel dat dié instansie ’n trotse vennoot is van hierdie Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar nóg groter en beter word. “Hierdie kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges op die gebied wil ontvang. Dit is ook vir ons baie lekker om by dié projek betrokke te wees juis omdat dit entrepreneurs in Suid-Afrika bevorder,” sê sy.

Inskrywings vir vanjaar se kompetisie is oop van 27 Mei tot 31 Augustus. Vir meer inligting besoek: https://www.afriforumsakenetwerk.co.za/entrepreneur-van-die-jaar-kompetisie/

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN