Header Artwork
AfriForum: Regering het geen benul hoe om COVID-19-krisis te hanteer

AfriForum is na aanleiding van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging vanaand van mening dat die regering nie ’n benul het hoe om die COVID-19-krisis te hanteer nie. Om die virus te beveg moet mediese oplossings dringend gevind word eerder as om gepoogde politieke oplossings op die samelewing af te dwing.

AfriForum en Solidariteit se saak teen die regering oor die vooropgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe is nou van kardinale belang. Dié organisasies het reeds hul regspan opdrag gegee om ’n saak hieroor voor te berei sodat wanbestuur en korrupsie nie veroorsaak dat mense wat die entstof wil ontvang, verhoed word om dit te kry nie.

Volgens Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, is dit natuurlik nodig om op ’n verantwoordelike manier op die pandemie te reageer, maar die regering se misbruik van die virus om burgers se mees basiese vryhede te beperk, is nie regverdigbaar nie. “Die president maak dit duidelik dat die regering geen benul het hoe om op die virus te reageer nie. Nou word arbitrêre regulasies op die samelewing afgedwing en oortreders hiervan in hegtenis geneem, terwyl die geld wat vir die bestryding van die virus geoormerk is, in korrupte bedrywighede gesteel word. Dit alles, terwyl daar geen bewyse is dat hierdie arbitrêre regulasies die verspreiding van die virus daadwerklik beperk nie. Daar is wel bewyse dat die ekonomiese inperking tot reusewerksverliese en hongersnood lei.”

Van die arbitrêre regulasies waarna Roets verwys, is die blatante rassediskriminasie teen klein- en mediumgrootte sakeondernemings, die regulering van kleredrag en gekookte kos wat vroeër van toepassing was, die feit dat mense gedwing was om kwarantynfasiliteite te gebruik wat nie eens aan basiese standaarde voldoen het nie, asook die sluiting van strande wat tot oorvol winkelsentrums lei. Boonop het korrupsie ook tydens die pandemie hoogty gevier en ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat ongeveer R10,5 miljard wat vir die verligting van COVID-19 gebruik moes word, wanbestee is.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN