Header Artwork
AfriForum ondersteun fluitjieblaser met mandamus-aansoek oor ongerymdhede by Mmabana Stigting

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op 20 November 2020 namens Phatolo Kau, voorheen hoof van mensehulpbronne by die Mmabana Stigting vir Kuns, Kultuur en Sport, ’n mandamus-aansoek beteken op die premier van Noordwes, die Departement van Kuns, Kultuur en Tradisionele Sake, die Mmabana Stigting en die president van Suid-Afrika. Die doel van die aansoek is om die premier te dwing om ’n besluit te neem oor toepaslike optrede ná ’n forensiese ondersoek. Die partye het 20 dae om kennis te gee of hulle die aansoek teenstaan.

Die aansoek volg nadat Kau in Oktober 2014 reeds sekere ongerymdhede by die Stigting by die premier van Noordwes aangemeld het en die premier daarna ’n forensiese ondersoek versoek het. Die privaat ondersoekmaatskappy Nexus Forensic Services is aangestel om die ondersoek te behartig, wat volgens dié maatskappy in Augustus 2016 reeds voltooi is. Dit het onder Kau se aandag gekom dat die ondersoekverslag onder meer aanbeveel dat die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) ’n verdere strafregtelike ondersoek na die ongerymdhede moet instel.

Kau het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 genader nadat die premier versuim het om te reageer op Kau se briewe om ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2000 toegang tot dié verslag te kry. Die eenheid het ook skrywes aan die premier gerig en daarna ook aan president Cyril Ramaphosa in sy hoedanigheid as hoof van die uitvoerende gesag van die Republiek.

Volgens Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is hierdie ’n eenvoudige saak wat maklik deur die premier opgeklaar kon word. “Die mandamus-aansoek is die laaste uitweg omdat geen van die respondente die verslag verskaf het nie. Die aansoek het ten doel om die premier te dwing om ’n finale besluit te maak oor die inwerkingstelling van die aanbevelings in die verslag, veral oor die Valke se verdere ondersoek en dat die Departement van Kuns, Kultuur en Tradisionele Sake vir Kau sal inlig van die optrede – indien enige – wat teen die oortreders geneem word wat in die verslag geïmpliseer word.”

Volgens Swanepoel is fluitjieblasers een van die doeltreffendste wyses om korrupsie te identifiseer en aan die kaak te stel. “Hierdie mense moet ten alle koste ondersteun en beskerm word om te verseker dat ander ook bereid sal wees om na vore te kom om korrupsie te ontbloot. Die president se uitsprake dat korrupsie uitgeroei moet word, blyk egter net lippediens te wees, omdat hy in hierdie geval van beweerde ongerymdhede bewus was, maar versuim het om op te tree. Selfs nadat die ondersoekverslag opgestel is, het die ouditeur-generaal bevind dat die Stigting uitbetalings van meer as R100 miljoen gemaak het sonder ’n goedgekeurde begroting. Hierdie verdere vermorsing van belastingbetalers se geld kon verhoed word as daar tydige optrede deur die respondente was,” sê Swanepoel.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN