Header Artwork
AfriForum nader SAMRK oor Kimberley se drinkwater

AfriForum het ’n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien oor die gehalte van Kimberley se drinkwater. Dit volg nadat AfriForum verskeie klagtes van inwoners ontvang het nadat hulle al vir maande lank sukkel met probleme, onder meer dat die drinkwater wat voorsien word nie geskik is vir menslike gebruik nie.

AfriForum het verskeie kere watermonsters van krane, uitlate en reservoirs in Kimberley geneem en dit by ’n SANAS-geakkrediteerde laboratorium laat toets. Hierdie uitslae toon dat die water nie geskik is vir menslike gebruik nie omdat daar E. coli in die water is. Die uitslae het ook getoon dat die turbiditeit van die water so hoog as 5,4 was, terwyl die toelaatbare turbiditeit tussen 0 en 1 moet wees.

AfriForum het die uitslae van hierdie toetse onder Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit se aandag gebring. Drie skrywes is aan Boy Daluwayo, waarnemende munisipale bestuurder, en Sabelo Mkhize, waterdienstebestuurder, gestuur. Die genoemde skrywes is nooit deur die munisipaliteit beantwoord nie. Die munisipaliteit het wel ingestem om met AfriForum te vergader. Daar is toe twee vergaderings belê met die oog op samewerking.

“Ons probeer altyd om met munisipaliteite en ander instansies saam te werk voordat ons dit oorweeg om swaarde te kruis,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake. “Indien samewerking egter nie moontlik is nie wend ons ons na ander forums om sodoende ons lede se grondwetlike regte te beskerm. Ons het met ’n positiewe gevoel by beide vergaderings uitgestap nadat ons ons hulp aan die munisipale bestuurder aangebied het en dit op daardie stadium gelyk het of samewerking moontlik sal wees. Dit het later geblyk dat die munisipaliteit nie die hulp wat ons aangebied het, gaan aanvaar nie. Ná meer as ’n maand is daar nog nie veel verbetering in die gehalte van drinkwater nie,” sê De Klerk verder.

Om hierdie rede het AfriForum op 19 Julie ’n aanmaning aan die munisipaliteit gestuur om binne 48 uur die kwaliteit van die water in ooreenstemming met wetgewing te bring. Die munisipaliteit het nie op AfriForum se versoek gereageer nie en ook nie gehoor gegee aan die skrywe nie. Daarom het die burgerregteorganisasie op 23 Julie klagtes by die MRK ingedien. Die SAMRK het ontvangs van die klagtes erken.

“Dit is hartseer dat ons eens pragtige stad besig is om so te verval,” sê Ian Smith, voorsitter van AfriForum se Kimberley-tak. “Belastingbetalers is moeg daarvoor om aan hulle eie genade oorgelaat te word en ons hoop dat die SAMRK kan ingryp sodat ons ons basiese reg tot skoon drinkwater kan terugkry.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se tak in Kimberley: SMS “Kimberley” na 45350 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN