Deur Marthinus Koekemoer
AfriForum het vandag ’n verslag oor politieke inmenging in Suid-Afrikaanse krieket aan die Internasionale Krieketraad (IKR) gestuur. Die verslag is vandag aan die media bekendgestel en sluit verskeie voorbeelde in waar politici by spankeuses en dies meer ingemeng het. Statistiek word ingesluit om die impak van die inmengery aan te dui.
Die doel van die verslag is nie om prestasieverskille tussen rasse uit te lig nie, maar om afgedwingde rassekwotas en die invloed van dié beleid onder die loep te neem. Die streng afdwinging van rassekwotas het tot gevolg dat ras – en nie meriete nie – die verkiesingskriterium geword het en die gehalte van dié sport benadeel.
Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê sport was nog altyd gemik op gesonde kompetisie en dat spelers op meriete vir spanne gekies word.
“Elke atleet ding mee om die beste in hul sportsoort te wees, of om hul plek te verdien in ’n span met die beste spelers. Politieke inmenging in sport is ’n direkte aanval op hierdie eeue-oue ideale, en soos AfriForum se verslag bevind, is Krieket Suid-Afrika hoog op die podium van politieke inmenging in sport. Politieke inmenging verander sport in ’n grap en kan op die langduur skade aanrig.”
Die omstrede voorval waar Vernon Philander, wat nie 100% fiks was nie, die aand voor die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in 2015 vir Kyle Abbott, wie in die toernooi fantasties op dreef was, in die elftal vervang het, is een van vele voorbeelde van inmengery wat genoem word. Grant Elliot, wat in Suid-Afrika gebore is, het in dieselfde wedstryd vir Nieu-Seeland uitgeblink. Hy het soos baie ander Suid-Afrikaners sy heil in die buiteland gaan soek na daar aan hom gesê is dat kwotas sy toekoms in Suid-Afrika kan beïnvloed.
Spelers insluitend Elliot, Kevin Pietersen en Jennings se seun, Keaton, is in Suid-Afrika gebore, maar het uiteindelik internasionale krieket vir ’n ander land gespeel. Ander top Suid-Afrikaanse spelers, wat in heelwat gevalle reeds vir die Proteas naam gemaak het, is onder die Kolpak-reël die land uit om groener weivelde in hoofsaaklik Engeland te gaan soek. Jacques Rudolf, Abbott, Colin Ingram en Stiaan van Zyl is ’n paar van die spelers wat oor die jare hierdie roete gevolg het.
Die verval van Suid-Afrikaanse krieket kan dalk die beste op 0.19-vlak gesien word. In 2011 het die Suid-Afrikaanse 0.19-span 84% van al hul wedstryde onder afrigter Ray Jennings gewen. In 2014 was die span die Wêreldkampioene. Kort na afloop van die toernooi is die onervare Lawrence Mahatlane in Jennings se plek aangestel en die span se wenpersentasie het tot ’n skrale 35% afgeneem. Die transformasie gedrewe aanstelling van Mahatlane en strenger kwotas vir die insluiting van swart spelers in die span val saam met die skerp agteruitgang in hul uitslae.
Ronald Peters, AfriForum se bestuurder vir sport, noem dat die agteruitgang van krieket in Suid-Afrika weens politieke inmenging reeds te lank toegelaat word.
“Dit is noodsaaklik dat die IKR nou intree en rassediskriminasie en politieke inmenging verbied,” sê hy. “Sport kan mense verenig. Die politieke inmenging het meer as net ’n negatiewe impak op die standaard van professionele krieket wat plaaslik en op internasionale vlak gespeel word, dit dryf die krieketgemeenskap uitmekaar.”
Daniël Eloff, regsverteenwoordiger van Hurter Spies Ing., het die verslag namens AfriForum vir die IKR gestuur en het genoem dat Krieket Suid-Afrika (KSA) die IKR se kode op drie gebiede oortree.
“Ons het die IKR gevra om ondersoek in te stel en sanksies teen KSA te oorweeg.”