Header Artwork
AfriForum moniteer skoleplasingsproses in Gauteng – departement antwoord vrae, maar probleme duik steeds op   

Na aanleiding van die prokureursbrief wat AfriForum aan die Gautengse Departement van Onderwys gerig het om kommer oor probleme met dié provinsie se skoleplasingstelsel onder die departement se aandag te bring, het die departementshoof, mnr. Edward Mosuwe, die skriftelike onderneming aan AfriForum gegee dat hierdie sake aandag geniet.

In die skrywe gedateer 13 Augustus 2021, meld mnr. Mosuwe dat die huidige stelsel die aansoeke in fases verdeel om administrasie meer doeltreffend te maak. Hy gee die onderneming dat kinders se voorkeur vir taal van onderrig in die aansoek geakkommodeer word en in ooreenstemming met die plasingsregulasies hanteer sal word. Dit geld ook vir kriteria soos voedingsones en die kapasiteit van skole.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, lyk die ondernemings in die brief gerusstellend, maar ervaring het geleer dat die volle omvang van probleme met Gauteng se stelsel eers duidelik word wanneer die plasingslyste bekend word. AfriForum gaan dus voort om die proses te moniteer ten einde moedertaalonderrig en leerders se regte te beskerm. AfriForum se standpunt bly dat die stelsel waar skole self plasings kon hanteer, veel beter as die aanlynstelsel gewerk het en heringestel behoort te word. Dit het aan gemeenskappe die reg gegee om hulle skole te bestuur, eerder as wat die gesag in die hande van die staat beland, met ideologiese inmenging van byvoorbeeld die LUR van Onderwys, mnr. Panyaza Lesufi, en voortdurende stelselprobleme wat vir skole en ouers groot spanning veroorsaak.

“Klagtes word steeds van skole en ouers ontvang oor haakplekke in die stelsel en AfriForum bring dit deurlopend onder die departement se aandag. Dit sluit in dat ouers sukkel om tweelinge te registreer, omdat die stelsel net een plasing erken. Dan is daar ook ernstige kommer by ouers wie se kinders tans nie in openbare skole is nie, maar wat hulle in 2022 in openbare skole wil plaas. Hulle vrees dat hulle aansoeke nie gelyke oorweging sal ontvang nie. Deur die departement voortdurend op die skending van leerders se regte te wys, hoop ons dat aanpassings betyds sal plaasvind om verdere probleme te voorkom en regsaksie deur AfriForum onnodig te maak,” voeg Bailey by.

Ouers word aangemoedig om hulle by www.gdeadmissions.gov.za van die plasingsproses te vergewis, in kontak met die skole van hulle keuse te bly en enige probleme met die stelsel aan te meld by AfriForum se klagtelyn by onderwys@antiek.afriforum.co.za.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN