Header Artwork
AfriForum: Lesufi moet fokus op gehalteonderrig in plaas van rassismekwessies

Volgens AfriForum is die chaotiese en oneffektiewe skoleplasingsproses vir die 2021 akademiese jaar in die Gauteng-provinsie weereens ’n bewys dat die Departement van Basiese Onderwys nie in staat is om hierdie funksie doeltreffend te vervul nie en dat die plasing van leerders deur skole self hanteer moet word. Die burgerregteorganisasie het Lesufi ook daarop gewys dat hy eerder op gehalteonderrig moet fokus as op kleinlike aanvalle op AfriForum oor kwessies wat niks met onderwys te make het nie.

Dit volg nadat Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, vandag aangekondig het dat meer as 41 000 leerders wat volgende jaar vir grade 1 en 8 geregistreer moet word, steeds wag om in skole geplaas te word. Die plasingsproses in Gauteng het vanjaar eers op 1 Oktober afgeskop en duur tot Maandag 30 November. Lesufi het ook vandag aangekondig dat laat registrasies van 22 Desember 2020 tot 22 Januarie2021 gedoen kan word. Volgens Natasha Venter, AfriForum se adviseur vir onderwysregte, laat dit bitter min tyd oor vir ouers wat nie daarin kon slaag om hulle kinders betyds vir die 2021 akademiese jaar by ’n skool te registreer nie.

Lesufi het verder uitgevaar oor die feit dat die Hoogste Hof van Appèl vir Pieter Doorewaard en Phillip Schutte onskuldig bevind het nadat AfriForum hierdie twee manne se appèlkoste befonds het.

Sowel die aanlynregistrasiestelsel as die plasingsproses het, soos in die verlede, talle probleme veroorsaak. “Sommige ouers het AfriForum gekontak nadat hulle byvoorbeeld plasingsboodskappe van die departement ontvang dat hulle kind in hulle tweede of derde keuse van skool geplaas is, terwyl die skool van eerste keuse die kind reeds op sy plasingslys aanvaar het. Dit laat dit lyk asof die skool van eerste keuse reeds vol is, terwyl die kinders inderwaarheid na ’n ander skool gaan. Dit kan veroorsaak dat geaffekteerde skole nie heeltemal vol is nie. Dit lyk dus vir AfriForum asof die Gautengse departement van onderwys (GDO) die proses probeer manipuleer.”

Panyaza Lesufi se magsbeheptheid om alle skole en skoleplasings in die provinsie te beheer is volgens Venter uiters ongesond en tot nadeel van alle leerders. “AfriForum sal dus aanhou om druk op die departement te plaas om skole en beheerliggame meer mag te gee om self hulle skoleplasings te behartig. AfriForum sal ook daarmee voortgaan om skole en beheerliggame by te staan in die stryd om die plasingsprobleme op te los voor die aanvang van die 2021-skooljaar.”

Boonop het die GDO se onbekwaamheid om te verseker dat daar genoeg gehalteskole beskikbaar is vir leerders, weer duidelik na vore gekom. Ongelukkig is daar ook verskeie funksionele gebreke by die enkele skole wat die GDO wel opgerig het.

“AfriForum moedig ouers aan om deurgaans met die skool van hulle keuse te kommunikeer en seker te maak hulle kind(ers) is wel op die skool se plasingslys, al het hulle nog nie ’n SMS-kennisgewing gekry nie.”

AfriForum wil ook inligting bekom oor gevalle waar die GDO versuim om ouers met hulle probleme by te staan: stuur ’n e-pos na onderwys@antiek.afriforum.co.za.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN