AfriForum Jeug het op 31 Julie 2021 ’n skoonmaakaksie by die Konsentrasiekampmonument in Kimberley aangepak in samewerking met lede van die Rapportryers, die Voortrekkers en Landsdiens.
Dié monument is opgerig op die plek waar die konsentrasiekamp van 1899–1902 geleë was om eer te toon aan die vroue en kinders wat daar aangehou is en gesterf het. Sowat 30 vrywilligers het gehelp om die historiese terrein en monument skoon te maak. Ná afloop van die skoonmaakprojek het hulle ook ’n krans by die monument gelê.
“Dit is vir my baie verblydend om te sien dat ’n gemeenskap op so ’n wyse bymekaar kan kom om self verantwoordelikheid vir hul erfenis te neem deur dit te beskerm en die terreine skoon en netjies te hou,” sê Petri van der Walt, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir dorpstrukture.
AfriForum Jeug beplan om binnekort ’n skoonmaakaksie by die Magersfontein Burger-monument aan te pak. Volgens AfriForum Jeug is die lesse uit die verlede belangrik vir vandag en vir die toekoms. Dit is daarom belangrik om alle erfenisterreine en hul verhale te bewaar vir die geslagte na ons.
Raak vandag nog by die jeugstrukture in jou gemeenskap betrokke en help om ’n verskil te maak. E-pos petri.vanderwalt@antiek.afriforum.co.za of SMS “Jeug” na 32687 (R1 per SMS).