Header Artwork
AfriForum in Bloemfontein #VegEnBou voort

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het op 15 Mei verskeie skoonmaak- en herstelaksies in Rayton View, Heuwelsig, Wilgehof, Gardeniapark en Bloemfontein-Noord aangepak as deel van die organisasie se #VegEnBou-projek.

AfriForum se Rayton-Heuwelsig-tak het ’n skoonmaakaksie in De Bruinlaan en Lucas Steynstraat uitgevoer met behulp van hul nuut aangekoopte trekker. Kontrakteurs van die Pionier Dienstemaatskappy, verskeie ondernemings en organisasies sowel as vrywilligers uit die gemeenskap het saam met Cheetahs for Change die park op die hoek van Lucas Steyn- en Oliver Schreinerstraat se gras gesny, bome gesnoei en rommel opgetel en verwyder. Die park is ongeveer vier hektaar groot. Hierdie tak spog ook met ’n nuwe waterkar wat deur donasies van die gemeenskap aangekoop kon word.

Die Wilgehof-tak het saam met die Pionier-kontrakteurs die lang gras by die 1.8 hektaar stuk veld in Montgomerystraat en Alwynrylaan korter gesny. Hierdie veld wat teen die treinspoor loop is ’n gewilde wegkruip- en wegsteekplek vir kwaaddoeners en sommige inwoners het die gewoonte om hulle vullissakke tussen die lang gras weg te gooi. Die tak het ook ’n bewusmakingsaksie in Jasmynlaan gehou waar AfriForum Jeug, leerders van Hoërskool Jim Fouché en vrywilligers uit die gemeenskap rommel opgetel het. Die tak het ongeveer een ton teer gebruik om slaggate in Orchidlaan te vul.

AfriForum se Bloemfontein-Noord-tak het ook die oggend ’n bewusmakingsaksie gehou waar die tak deur die buurte beweeg het en vullis verwyder het. ’n Totaal van 42 ton vullis is uit die area verwyder.

“AfriForum in Bloemfontein is dankbaar vir die gemeenskap en ondernemings se bydraes sodat ons hierdie projekte suksesvol kan uitvoer. AfriForum moedig steeds gemeenskapslede en ondernemings aan om by die burgerregteorganisasie aan te sluit sodat ons daadwerklik ’n verskil kan maak en Bloemfontein kan herstel tot die spoggerige Rosestad soos ons almal dit ken,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.

AfriForum lewer reeds sedert September 2020 ’n volhoubare vullisverwyderingsdiens aan inwoners van Bloemfontein, wat van dié diens gebruik maak omdat die munisipaliteit nie gereeld vullis verwyder nie. Alle lede van die publiek word aangemoedig om vir hierdie diens te registreer en aan te sluit.

SMS “AfriForum” na 45266 (R1) om by AfriForum se Bloemfontein-takke aan te sluit.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN