Header Artwork
AfriForum en Solidariteit dien strafregtelike klagte in teen Julius Malema

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit het vandag strafregtelike klagte van laster, sameswering vir die aanhitsing tot geweld en aanranding deur middel van dreigemente by die Lyttelton-polisiekantoor ingedien teen Julius Malema, leier van die EFF.

Meer as 1 000 polisiebeamptes het Solidariteit genader met kommer oor dreigende uitlatings wat Malema onlangs teenoor lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gemaak het. Malema het onder meer gesê dat hulle (die EFF) nie bang is vir die polisie nie en met polisielede en hulle families in hulle eie huise in geveg sal tree. Malema sê die EFF sal polisielede “een vir een” in hulle gemaksones aanvat en hulle leer dat geeneen die mag van die massas sal kan oorwin nie.

“Dit is duidelik dat Malema nog steeds glo dat hy bo die reg verhewe is. Die rede waarom Malema hierdie opmerkings in die eerste plek maak, is dat daar tot op hede nie gevolge was vir al die vorige insidente waar hy openlik geweld aangehits het nie. Indien die polisie hierdie saak nie met die nodige erns hanteer nie, sal Malema dit as ’n bevestiging sien dat hy inderdaad bo die reg verhewe is,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

“Solidariteit is oorval deur polisielede van regoor die land wat hulle skok, ontsteltenis en totale verontwaardiging uitgespreek het oor Malema se woorde en dreigemente. Dis onaanvaarbaar dat ’n politieke leier wat ’n eed afgelê het om die Grondwet en ander wetgewing van die land te eerbiedig en te respekteer, op só ’n gewelddadige manier uitvaar teenoor die polisie,” sê Renate Barnard, Solidariteit se sektorkoördineerder vir die Openbare Sektor, wat ook met die polisie werk.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal die saak deurlopend monitor om te verseker dat geregtigheid geskied. Indien Malema nie deur die Nasionale Vervolgingsgesag vervolg nie, sal die privaatvervolgingseenheid hom privaat vervolg.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN