Header Artwork
AfriForum en Solidariteit dien hofaansoek in wat meer inligting versoek oor onwettige entstofvoorwaardes

AfriForum en Solidariteit het ’n dringende hofaansoek ingedien, eerstens, om meer inligting te versoek rakende die entstofvoorwaardes wat SAHPRA vir Johnson & Johnson gestel het, en tweedens, vir die hersiening van die besluit om hierdie voorwaardes te stel. SAHPRA het die Johnson & Johnson-entstof, wat deur Janssen Pharmaceuticals vervaardig word, goedgekeur. Die entstof is goedgekeur met ’n voorwaarde wat bepaal dat slegs die regering die entstof mag aankoop.

AfriForum en Solidariteit se hofaansoek is tweeledig. Eerstens is dit ’n aansoek vir inligting. Die wetgewing sê as daar voorwaardes is, dan moet die voorwaardes gepubliseer word deur middel van die Staatskoerant. AfriForum en Solidariteit kan geen sodanige publikasie vind nie, en dus versoek die organisasies dringend hierdie inligting. Dit is ’n dringende aansoek en dit word op 29 Junie aangehoor. Tweedens versoek AfriForum en Solidariteit die hersiening van die besluit van SAHPRA om ’n voorwaarde van ’n regeringsmonopolie te stel vir die aankoop van die Johnson & Johnson-entstof. Hierdie besluit deur SAHPRA is onwettig, want daar is geen bepalings wat hom magtig om hierdie voorwaardes te stel nie.

“Dit is vir ons duidelik dat die staat hier onbehoorlik ingemeng het in die funksies van SAHPRA. SAHPRA is veronderstel om te kyk na die doeltreffendheid van entstowwe en ander medisyne en nie na die sentralisering en nasionalisering daarvan nie. Ons is van mening dat so ’n sentraliseringsvoorwaarde onwettig is. Die staat is in hierdie stadium al klaar onbevoeg om ’n behoorlike entstofuitrolprogram te administreer, en ek sidder om te dink wat gaan gebeur as entstowwe deur so ’n voorwaarde by die regering gesentraliseer word,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.

“Die regering se entstofuitrolprogram is tot dusver ’n ondoeltreffende, sloerende fiasko en die land se minister van gesondheid, Zweli Mkhize, is pas op spesiale verlof geplaas weens ernstige korrupsieaantygings. Die regering is dus in geen posisie om alleen die aankoop en verspreiding van entstowwe te hanteer nie. Hulle eie treurige rekord tot dusver is die beste argument teen hierdie monopolie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN