Header Artwork
AfriForum eis LUR Lesufi se bedanking ná erkenning van wanbestuur   

AfriForum dring daarop aan dat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van Onderwys, bedank ná sy uitlating dat hy geskok is oor die inhoud van ’n verslag waaruit dit blyk dat meer as R431 miljoen binne drie maande deur die Gautengse Onderwysdepartement bestee is aan die reiniging en ontsmetting van skole en fasiliteite in dié provinsie deur diensverskaffers oor wie se geskiktheid groot vraagtekens hang.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, maak die LUR se uitlating dit duidelik dat hy nie weet wat in sy departement aangaan nie en dat hy dus nie bekwaam is om dit te bestuur nie.

“Dat hy versoek dat die ouditeur-generaal dié uitgawes moet ondersoek, is mosterd na die maal – net soos sy onderneming dat diegene aanspreeklik gehou moet word wat vir die besteding verantwoordelik is. Hy is die mees senior verantwoordelike beampte; as hy dan werklik besorg is oor die wanspandering en ’n sterk voorbeeld in dié opsig wil stel, sal hy self bedank.”

AfriForum het in die verlede verskeie kere gewys op die wanbestuur in die departement, onder meer dat fondse wat vir die bou en instandhouding van skole toegewys is nie bestee word nie, asook die jaarlikse chaos met die aanlyn skoleregistrasieproses.

“Hierdie verslag is maar net nóg so ’n voorbeeld. Die LUR se poging om die skuld te verskuif en ander skuldiges te soek, beteken dat geen noemenswaardige verbetering in die bestuur van die departement in die vooruitsig gestel kan word nie. As gehalteonderwys in Gauteng ’n prioriteit is, is die enigste oplossing om iemand aan die stuur te plaas wat die nodige ervaring, kundigheid en aanspreeklikheid aan die dag lê,” sluit Bailey af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN