Header Artwork
AfriForum eis aksieplan van J.B. Marks-munisipaliteit ná historiese gebou ineenstort

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis dringende optrede van die J.B. Marks-munisipaliteit nadat die historiese smidswinkel, wat deel van die President Pretorius-museumkompleks is, op 29 Oktober 2020 ineengestort het.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is ’n bars in die balk waarop die dak rus reeds in September 2020 opgemerk en onder die munisipaliteit se aandag gebring. Daar is egter niks aan die saak gedoen nie en die gevolg is dat die gebou nou onherstelbaar beskadig is.

Hoewel die twee symure van die gebou nog staan, is dit nie in ’n goeie toestand nie. Die mure van die smidswinkel is tot vensterbankhoogte van klip gebou, die res van rou stene. Die klipwerk is herwinbaar, maar nie die stene nie. Ná herbouing sal daar dus slegs sowat 40% van die oorspronklike struktuur oorbly. “Die stabilisering van die oorblywende mure en deskundige restourasiewerk moet dringend onderneem word, anders sal selfs meer van die oorspronklike gebou verlore gaan,” sê Pretorius.

Pretorius noem dat die gebou van besondere Suid-Afrikaanse historiese betekenis is, aangesien dit deel uitmaak van een van die min oorspronklike plaaswerfkomplekse wat uit die Pionierstyd van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) dateer. Dit was moontlik selfs die eerste struktuur op hierdie terrein wat in ongeveer 1840 opgerig is en Barend Greyling, ’n stiefseun van Piet Retief, gehuisves het. Dit is ook belangrik aangesien dit behoort het aan M.W. Pretorius, die eerste president van die ZAR, en vanweë belangrike gebeure wat op hierdie terrein afgespeel het, waaronder die opstel van die eerste grondwet van die ZAR, belangrike gebeure in die Eerste Vryheidsoorlog (1880–1881), die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) en selfs die totstandkoming van die Noordwes-Universiteit (soos dit vandag bekend staan).

AfriForum eis dat die munisipaliteit dringende stappe doen om die oorblywende mure teen stormskade te beskerm, en ’n aksieplan vir die restourasie en rekonstruksie daarvan aan die organisasie voorlê.

“In Oktober 2020 het lede van die plaaslike AfriForum-tak en AfriForum Jeug baie tyd en geld bestee om die museumterrein op te knap. Dit lê ons na aan die hart en ons is bereid om die smidswinkel in vennootskap met die munisipaliteit te red. As ons egter nie sien dat daar erns daarmee gemaak word nie, is ons bereid om stappe te doen om die bewaring daarvan af te dwing,” voeg Pretorius by.

Indien jy tot die behoud van jou erfenis wil bydra, SMS “Smidswinkel” na 45351 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN