Header Artwork
AfriForum dien klagtes in teen EFF, Malema en Ndlozi

AfriForum sal vandag klagtes by die Hooggeregshof in Johannesburg teen die EFF en sy leier Julius Malema indien nadat lede van dié party en hul leierskap die lied “Kill the Boer, kill the farmer” op verskeie geleenthede gesing het, met spesifieke verwysing na die gebeure wat in Oktober 2020 in Senekal afgespeel het. Die klagtes word by die Hooggeregshof, wat as die Gelykheidshof sit, geliasseer. Die kern van die klagtes spruit voort uit die feit dat die EFF “Kill the Boer, kill the farmer” net buite die hof in Senekal gesing het terwyl die moordsaak van die jong plaasbestuurder Brendin Horner aangehoor is.

Die klagte van haatspraak fokus op die besonderse konteks waarin die EFF “Kill the Boer, kill the farmer” gesing het en verwys na verskeie ander geleenthede waar die party en sy leiers die lied, wat reeds tot haatspraak verklaar is, gesing het. Die aansoek steun ook op die 2011-skikking tussen AfriForum en Malema toe ’n bevel van die Hoogste Hof van Appèl gemaak is, ingevolge waarvan Malema verbied word om sulke liedere te sing en verplig word om sy ondersteuners aan te moedig om dit ook nie te doen nie.

In 2010 het AfriForum verrigtinge in die Gelykheidshof ingestel ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, 4 van 2000 teen onder andere Malema.

Ná ’n suksesvolle klagte is ’n bevel op 7 September 2011 toegestaan wat die woorde “awudubula ibhunu” en “dubula amabhunu baya raypha” as haatspraak verklaar wanneer Malema dit sing. Malema is verbied en daarvan weerhou om die lied bekend as “Dubula Ibhunu” te sing by enige openbare of privaat vergadering wat deur hom gehou of gelei word.

Hierna is appèl by die Hoogste Hof van Appèl aangeteken, maar voordat die aansoek aangehoor kon word het die partye tot ’n bemiddelingsproses ingestem nadat die voormalige president van die Hoogste Hof van Appèl só ’n voorstel gemaak het. Die bemiddeling was suksesvol, en ’n ooreenkoms is tussen die onderskeie partye bereik, wat op 1 November 2012 ’n bevel van die Hoogste Hof van Appèl gemaak is.

Ingevolge die skikkingsooreenkoms het Malema ingestem tot berading, asook om sy party se leiers en ondersteuners te ontmoedig om die gewraakte lied en ander soortgelyke liedere te sing.

Die klagte behandel ook die gewelddadige aard van die EFF en die onlangse uitlatings deur die EFF-woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi waar hy sy volgelinge aangehits het om boere se plase en eiendom af te brand.

“Met die EFF en Malema se aanhoudende haatspraak en Malema se weiering om sy ondersteuners te stop, is dit AfriForum se rol as burgerregteorganisasie, wat veral ’n fokus op die beskerming van minderheidsregte het, om die nodige stappe te doen om te verseker dat dit stopgesit word,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

“Plaasmoorde is ’n ernstige en voortdurende werklikheid. Die EFF se uitlokkende aanhitsing van plaasmoorde buite die hof waar beskuldigdes van ’n plaasmoord vervolg word, is skokkend en onaanvaarbaar,” sluit Roets af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN