Header Artwork
AfriForum: Cele dryf ontwapeningsveldtog met eie huis in wanorde

Die burgerregteorganisasie AfriForum het met teleurstelling van die 500 diensgewere verneem wat oor die afgelope drie finansiële jare deur SAPD-beamptes verloor is ná hulle toegelaat is om dié wapens huis toe te neem. ’n Bykomende 10 765 rondtes ammunisie is ook deur beamptes verloor terwyl hulle van diens af was. Dié inligting is deur Polisieminister Bheki Cele bekend gemaak in reaksie op geskrewe vrae in die parlement.

Wat die kwessie vererger, is die feit dat die portefeuljekomitee vir polisie onlangs ’n amnestie-ooreenkoms vir privaat vuurwapeneienaars goedgekeur het. Sou die parlement dié ooreenkoms goedkeur, sal tussen 450 000 en 1 miljoen vuurwapens oor ’n kort tydperk by polisiestasies ingedien moet word. Die meerderheid van die vuurwapens is dié van wettige vuurwapeneienaars wat nagelaat het om hul vuurwapenlisensies te hernu in die 90-daetydperk wat vir dié doel deur die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000 (wet 60 van 2000) bepaal is. Die reëling is die onderwerp van ’n voortdurende vuurwarm debat wat sowel binne as buite Suid-Afrikaanse howe gevoer word.

Die rede vir die argument was om te bepaal of die wettige bepalings en voorwaardes vir die hernuwing van vuurwapenlisensies korrek toegepas is. Dit blyk nou dat Cele nie burgers gaan toelaat om duidelikheid oor dié saak deur die howe te kry nie, maar dat hy eerder ’n kort pad gekies het in die vorm van dié amnestie. Die ironie is dat artikel 139 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens die minister van polisie wel toelaat om ’n amnestietydperk af te kondig, maar dit moet deur die parlement goedgekeur word. Die enigste doel van die artikel is egter om onwettige vuurwapenbesit te ontmoedig en om onwettige vuurwapens uit sirkulasie te haal. Die feit dat die SAPD skynbaar nie eens sy eie vuurwapens kan bestuur nie, is bewys daarvan dat hulle heel waarskynlik ook nie in staat gaan wees om die bykans een miljoen onwettige vuurwapens te bestuur wat tydens só ’n amnestietydperk ingedien sal word nie. Boonop sal dié vuurwapens heel waarskynlik in kriminele hande beland.

“Dit is ’n duidelike aanduiding dat die polisie onbekwaam is om na vuurwapens om te sien wat reeds in hul besit is – of dit nou bykomend is tot of deel is van die 9,5 miljoen rondtes ammunisie en 4 357 vuurwapens wat die SAPD oor die afgelope ses finansiële jare verloor het. Die gevolg is dat hulle – sou die amnestie in werking gestel word – eenvoudig nie met ’n bykomende 500 000 vuurwapens vertrou kan of behoort te word nie. Dis soos om wolf skaapwagter te maak,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

AfriForum sal aanhou om die proses te moniteer en oorweeg om dit teen te staan indien dit nodig sou wees.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN